Skepe wag nou nie meer as ’n dag om die vraghouerterminaal binne te gaan nie. ’n Herstelplan vir die veeldoelige terminaal, wat begin verlede maand sowat 75% in bedryf was, sal binnekort tydens ’n vergadering met belanghebbendes voorgelê word.

Die bemanning van skepe wat by die hawe in- en uitvaar, is voltallig nadat gevalle van Covid-19 en personeellede wat onder kwarantyn geplaas moes word, die bemanning tot 60% verminder het.

Me. Nicci van Niekerk van die varsprodukteterminaal sê die terminaal het tussen 30 Julie en 3 Augustus 15 603 ton grootmaat-landbouprodukte en 85 vraghouers verskeep. Teen 6 Augustus is ’n verdere 3 000 ton grootmaat-landbouprodukte en 28 vraghouers gehanteer.

Dweba-Kwetana sê alhoewel die storm vir eers stil is, is dit nog nie verby nie en moet die maatreëls wat in plek gestel is, streng gevolg word.

Sy sê die hawe sal voortgaan om produktiwiteit te bevorder en skepe terug te bring om die herstel van die Wes-Kaapse asook nasionale ekonomie aan te moedig. Sommige verskepingsmaatskappye wat Kaapstadhawe die afgelope tyd vermy het, besoek die hawe weer. Onder meer Maersk het direkte verskeping tussen Kaapstad en Europa hervat.