Verlede week is 433 voedseltuine, wat uit groentetuine of hoenderhokke bestaan, in die Kaapse metropool aangeplant, waaronder 123 in Gugulethu. Tuine is ook op onder meer Riversdal en Groot-Brakrivier, en in die woonbuurte Bella Vista en Dunoon aangeplant.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê die inisitiatief is in ooreenstemming met die provinsie se steun aan bestaansboere.

“Deur voedselsekerheid te verseker, ondersteun die Wes-Kaapse departement van landbou toegang tot ’n verskeidenheid bekostigbare voedselsoorte. Deur gemeenskappe en huishoudings aan te moedig om voedseltuine te skep, verskuif ons die klem van voedselhulp na voedselsekerheid.”

Meyer sê ’n tuin van 20 m² kan slaai, kool, uie, beet en boontjies in die herfs verskaf, en broccoli, spinasie, wortels, rape en ertjies in die lente. “ ’n Hoenderhok met vier tot ses hoenders verskaf ses tot agt eiers per dag en dus noodsaaklike proteïene.”

Hy sê die departement beoog om in die volgende paar weke nog 450 voedseltuine in veral Covid-19-brandpunte in die provinsie aan te plant.

“Die doel is om huisgesinne in staat te stel om genoeg voedsel te produseer om basiese huishoudelike voedselsekerheid reg deur die jaar te verseker. ’n Inkomste kan ook verdien word deur enige surplusprodukte te verkoop.”