Sowat 60% van die land se mielies word in die droër weste teen sowat 3 t/ha tot 4 t/ha geproduseer en 40% in die ooste teen 5 t/ha tot 6 t/ha.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, wat op die Nampo-oesdag ’n oorsig oor graanproduksie gegee het, sê Graan SA wend ’n groot poging aan om meer graanboere in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gevestig te kry waar die klimaatstoestande gunstiger is. “Die probleem daar is dat boere op kommunale grond moet produseer en nie finansiering kan bekom nie.”

Hy sê in die Wes-Kaap word op die oomblik baie werk gedoen om te kyk na alternatiewe gewasse ter aanvulling van koring, kanola en gars. Van dié gewasse sluit verbeterde lupiene, lensies en koljander in. “Eerstens moet ons kyk of daar ’n mark is. Omdat daar nie saad daarvoor beskikbaar is nie, het ’n mens eintlik ’n eindpunttantieme nodig om saadmaatskappye te oorreed om die saad te bring.”

Hy sê daar word saam met die Wes-Kaapse regering navorsing gedoen oor geskikte alternatiewe wat akkerboukundig kan werk en daar word reeds proewe geplant. “Dan moet ook na die ekonomiese lewensvatbaarheid daarvan gekyk word ten opsigte van markruimte voordat ons aanbevelings aan boere kan maak.”

Oor aanplantings in die suide het hy gesê in die Suid-Kaap is tussen 65% en 70% van die aanplantings afgehandel, in die Overberg sowat 30% en in die Swartland ook sowat 30%.

De Villiers sê in die oostelike somerreëngebied is opbrengste gemiddeld en sowat 60% van sojabone en mielies is klaar gestroop. In die weste het die stroopproses nog nie begin nie. 

Wat die internasionale situasie betref, sê De Villiers in Amerika het nat toestande aanplantings vertraag en dit het die internasionale mielieprys laat styg. Waar sowat 66% van die mielies daar normaalweg teen die middel van Mei geplant was, was dit vanjaar net sowat 30% met planttyd wat einde se kant toe staan.

“Dit is soortgelyk aan die situasie wat ons vanjaar ondervind het. Ons moes in die weste teen Kersfees klaar geplant wees, maar die reën het eers teen einde Desember gekom en daar is baie later as normaalweg geplant. Gelukkig kon boere ’n groot klomp mielies binne ’n week of wat te plant, maar daar was heeltyd die vrees dat ryp tot opbrengsverliese sou lei.

“Almal het gesê as ons net die Nampo-oesdag sonder ryp kan haal, kan ons skade vermy, maar daar was wel opbrengsverliese weens die minder sonskynsdae.”

Mnr. Derek Matthews, ondervoorsitter van Graan SA, sê mense moet besef dat Suid-Afrikaanse boere se vermoë om in ’n kort tyd baie hektare te beplant ’n groot bate is. “Binne 10 dae is die land vanuit ’n posisie van totale voedselonsekerheid gered en in ’n posisie geplaas waar daar genoeg kos behoort te wees. ’n Land soos Kenia het nie daardie vermoë nie en daarom staar ’n ernstige voedseltekort hom nou in die gesig.”

Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, sê daar is ’n nuwe gemoedstoestand by boere te bespeur. “Hulle het ’n kopskuif gemaak en is meer oplossingsgedrewe. Hulle wil ’n verskil maak en die staat ondersteun ons baie meer. Die onsekerheid is steeds daar, maar dit is minder bedreigend.”

De Villiers sê die Nasie in Gesprek-debatte op die oesdag het wegbeweeg van die afbrekende gesprekke oor grondhervorming en was meer gerig op oplossings. “Die regering het gevra wat moet hy regmaak om die sektor en die ekonomie te laat groei en hy luister na ons voorstelle.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.