Die aankondiging is by die maatskappy se hoofkantoor in Beacon Bay, Oos-Londen, gemaak waar vyf ooreenkomste onderteken is. Luidens ’n verklaring vorm dié ooreenkomste deel van die maatskappy se bemagtigingstrategie, wat daarop gemik is om ’n lewendehawe-uitvoerbedryf vir opkomende boere te ontwikkel.

Dié ooreenkomste sal na verwagting lei tot die aankoop van 25 000 tot 75 000 skape ter waarde van R30 miljoen tot R90 miljoen oor die volgende drie jaar. Die ooreenkomste is onderhewig aan die voorwaarde dat die boere se skape aan sekere spesifikasies moet voldoen.

Mnr. Mandisi Nofumba, wat met skape by Richmond in die Noord-Kaap boer, sê opkomende boere het meer geleenthede van dié aard nodig om hul besighede te laat groei en te kommersialiseer. “Op die een of ander punt moet ons uit die fase as opkomende boere beweeg en ook kommersiële boere word.”

Nofumba sê danksy die ooreenkoms is hulle ook besig om voorstelle te maak oor die vestiging van opleidingsentrums waar jong mense landbou-opleiding kan ontvang.

Mnr. Gcina Madasa, wat al 16 jaar lank by Elliot boer, sê die ooreenkoms bied aan boere die geleentheid om in ’n nuwe bedryf betrokke te raak. “Dit bied aan boere toegang tot ’n volhoubare mark, om die gehalte van ons vee te verbeter en om ons beplanning om met verskillende rasse te teel te verbeter.”

Sedert Al Mawashi, die Suid-Afrikaanse filiaal van die Koeweitse Al Mawashi, hom verlede jaar in Suid-Afrika gevestig het, het dit al meer as 55 000 skape aangekoop, vervoer en verskeep. Dié skape is teen markverwante pryse by sowat 150 Suid-Afrikaanse boere gekoop. Hierdie transaksie het ’n finansiële inspuiting van R155 miljoen in minder as ’n jaar vir die plaaslike ekonomie in die Oos-Kaap beteken.

Hoewel die Dierebeskermingsvereniging (DBV) die maatskappy in Oktober 2019 van dieremishandeling beskuldig het, sê Al Mawashi dat hy ’n vrektesyfer van 0,2% tydens die verskeping van die skape na Koeweit gehad het. Die internasionale standaard is 2%.Madasa sê as Al Mawashi nie verlede jaar sowat 60 000 skape gekoop het en na Koeweit uitgevoer het nie, sou hulle aan ’n tekort aan voer en water weens die droogte gevrek het.

Mnr. Ilyaas Ally, direkteur van kommersieel en bedrywighede by Al Mawashi, sê die maatskappy het ook skaap- en lamkarkasse met ’n gewig van 240 232 kg na Koeweit uitgevoer. Hy sê Al Mawashi hoop om sy sakebelang in Suid-Afrika teen 2025 tot R1 miljard wins per jaar uit te bou.

Ally sê dit is belangrik dat Suid-Afrikaners ingelig word oor die uitvoer van lewende hawe vir slagdoeleindes. “Dit is ’n bedryf wat al baie oud is, maar dit het baie gemoderniseer en meer gesofistikeerd geword om te voldoen aan dierewelsynstandaarde.”

Hy sê terwyl die maatskappy bereid is om saam te werk met ander belanghebbendes, soos organisasies wat diereregte beskerm, sodat hulle die bedryf kan verstaan, sal roekelose aktivisme, laster en wanvoorstellings in die media nie geduld word nie.

Die Oos-Kaapse hooggeregshof in Makhanda het op 28 Februarie die hofaansoek deur die DBV om die uitvoer van lewende deur die Al Mawashi-skeepsmaatskappy na Koeweit te stuit, van die rol geskrap. Die DBV is gelas om die koste van die saak te dra.