Dit volg nadat die DBV weer verlede week in ’n plasing op sy Facebook-blad uitgevaar het teen Al Mawashi en die beoogde uitvoer van die sowat 70 000 skape wat tans by Al Mawashi se Page Farming Trust-voerkraal in Berlyn by Oos-Londen aangehou word. Dié skape is vir Koeweit bestem.

Luidens die plasing het die DBV lasbriewe bekom om die voerkraal, die hawe en die Al Messilah-skip te ondersoek. Die organisasie beoog om ’n span Oos-Londen toe te stuur om die laai van die skape op die skip te monitor.

Die DBV maak veral aantygings oor die Al Messilah-skip waarin die skape volgende week gelaai gaan word. Die DBV sê daar word “berig” dat massas skape al op dié skip gesterf het, dat dit al verskeie meganiese probleme ter see ervaar het en al toegang tot hawens verbied is.

Me. Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die DBV, sê in die plasing die organisasie is “sprakeloos” oor Al Mawashi se besluit om die Al Messilah-skip, wat ’n “slegte reputasie” het en eintlik net ’n “geroeste emmer” is, te gebruik om lewende skape uit te voer ná die verontwaardiging wat die uitvoer van lewende skape in Oktober 2019 ontlok het.

Sy sê hoewel die DBV se dringende hofaansoek om die uitvoer van die lewende skape te keer in op 28 Februarie met koste van die hand gewys is, sal hulle aanhou veg vir die belange van die skape en die opskorting van lewendehawe-uitvoer. Daar word verwag dat Al Mawashi die DBV se lasbriewe kan teenstaan, wat tot verdere regskoste sal lei. Daar word ook baie koste aangegaan om die laai van die diere op die skip te monitor.

Die DBV voer aan dat hierdie skip ’n toe “metaalboks” is wat die skape daarin aan ’n erge hitte sal blootstel. Die DBV sê blootstelling aan erge hitte kan tot hitte-uitputting onder die skape lei. Die DBV voer aan dat daar nie genoeg ruimte op die skip is vir skape om te lê of maklik toegang tot voer- en waterkrippe te bekom nie.

Die DBV is ook bekommerd oor ’n gebrek aan eetlus, salmonellose, hoë digtheid van skape wat tot ongemak kan lei, longontsteking, bewegingsiekte, die uitwerking van ’n verandering in beligting op die diere, fisieke trauma, blootstelling aan skadelike gasse en ooginfeksies.

Ooreenkoms

Volgens die DBV is probeer om met Al Mawashi ’n ooreenkoms oor die uitvoer van die skape te bereik, onder meer dat die skape deur ’n veearts van die DBV vergesel word, maar dat dié pogings misluk het. “Dit dwing ’n mens om te vra wat Al Mawashi wil wegsteek. Daarom het die DBV geen ander opsie gehad as om lasbriewe te bekom om te verseker dat ons inspekteurs toegang tot die diere het nie.”

Al Mawashi het teruggekap op die DBV se aantygings wat hy die “nuutste mites oor lewendehawe-uitvoer” noem.

Mnr. JP Roodt, woordvoerder van Al Mawashi, sê dit is onwaar dat die skip waarin die skape vervoer sal word, nie in ’n goeie toestand is nie. “Die skip het die afgelope 30 jaar nog net een keer, in 2016, onklaar geraak. Die meganiese probleme is binne ’n paar uur opgelos en die skip het die hawe betyds bereik. Ons veroordeel die DBV se stelling dat die skip ’n ‘geroeste emmer’ is, terwyl dit eintlik een van die vlagskepe in ons vloot is.”

Roodt sê dit is ook nie waar dat Al Messilah al toegang tot hawens verbied is nie.

Vrektesyfer

Hy voeg by dat die vrektesyfer op die skip in pas is met die tussen 1% en 2% wat vir die uitvoer van lewende hawe toegelaat word. Hy sê dat die vrektesyfer 0,7% was toe die skape in Oktober 2019 na Koeweit verskeep is. “Dit maak vanuit ’n kommersiële en ekonomiese oogpunt nie vir ons sin om hoë vrektesyfers op ons skepe te hê nie. Op godsdienstige vlak word ons handelinge ook deur sekere aspekte van dieresorg bepaal soos in Islamitiese godsdienstige wetgewing uiteengesit.”

Roodt sê die skape wat verlede jaar uitgevoer is, het voorkom dat hulle in die droogtegeteisterde Oos-Kaap van honger of dors sou vrek. “Ons het skape by benoude kommersiële en opkomende boere teen markverwante pryse gekoop. Sommige boere moes tot 60% van hul vee van kant maak. Ons het dus ’n belangrike rol gespeel in die bemagtiging van boere en die welstand van hul vee, asook die beskerming van die land se landelike en landbou-ekonomie.”

Roodt sê die “verontwaardiging” waarna die DBV verwys is uit verband geruk. “Die uitvoer van lewende hawe is verwelkom en goed ontvang deur verskeie belanghebbendes in die waardeketting, die Oos-Kaapse premier, mnr. Oscar Mabuyane, asook opkomende en kommersiële boere.”

Hy sê die enigste mense wat verontwaardig is, is diereregte-aktiviste wat wil hê die uitvoer van lewende hawe moet verbied word. “Dit is belangrik om op te let dat diere gereeld verskeep word. Daar is niks nuuts of wreed daaraan nie.”

Hitte

Die aantyging dat die skip van metaal gemaak is en tot warm mis en hitteverwante stres vir die diere kan lei, is ook volgens Roodt ’n leuen. “Al Mawashi voer Merino’s uit. Verskeie wetenskaplike studies het reeds aangedui dat Merino’s meer aanpasbaar vir warm weerstoestande is as ander skaaprasse. Dit is ook alombekend dat die skape se wol hul liggame insuleer wat hulle help om ’n konstante liggaamstemperatuur te handhaaf.”

Hy sê dat die grootste risiko vir hitteverwante stres voorkom wanneer skape baie beweeg of rondhardloop. Hy voeg by dat die Al Messilah met uitstekende ventilasiestelsel toegerus is wat die skape van vars lug voorsien en hitte, vog en skadelike gasse verwyder. Hy volg ook die maatreëls uiteengesit in die hitte-stres-risiko-assesseringsmodel wat deur die Australiese regering ontwikkel is.

Roodt noem dat die hygende diere wat voor verlede jaar se verskeping deur dierewelsynsgroepe afgeneem is, nie as gevolg van hitte gehyg het nie, maar eerder omdat hulle tydens die laaiproses in hul hokke op die skip gejaag is.

Vorige uitnodiging

Roodt sê Al Mawashi het verlede jaar aan dierewelsynsaktiviste die geleentheid gebied het om te kyk hoe die skape in Koeweit afgelaai word en ook die skape te inspekteer om vas te stel in watter toestand hulle is. Hierdie uitnodiging is van die hand gewys.

Volgens Al Mawashi wil hy graag saam met die diereregte-organisasies werk, maar dat dié organisasies aanhoudend gerugte en leuens oor die maatskappy versprei. Hy sê dat die huidige wetgewing rondom dieregesondheid bepaal dat dierewelsynorganisasies se gesag eindig by die “monitor en evaluering van diere se gesondheid en welvaart waar hulle gelaai word”.

“Die organisasie het geen internasionale wettige voorregte om die welsyn van die diere tydens die reis te monitor nie. Onafhanklike monitors word hiervoor gebruik.”

Siektes

Roodt ontken dat die krippe op die skip los is, dat die diere hul eetlus verloor of aan bewegingsiekte ly, dat daar salmonellose aanboord is en dat daar nie genoeg spasie is vir die skape om te beweeg nie. “Die skape kan staan en normaalweg lê terwyl hulle aanboord is. Die hoeveelheid spasie wat aan elke skaap toegewys word, word volgens ’n wetenskaplike formule bereken.”

Hy sê dit is nie waar dat die skape ooginfeksies voor of tydens verskeping ontwikkel nie. “Ons moet volgens wet al die diere ondersoek om te bepaal of hulle in ’n toestand is om te reis. Diere wat siek, beseer of swak is, word nie op die skip gelaai nie. Diere is egter geneig tot ooginfeksies weens die wind en ander irritasties soos stof. Vitamien AED-inspuitings en aanvullings in hul voer word gebruik om ooginfeksies te voorkom of behandel.”

Skoonmaak van hokke

Hy is hoewel dit waar is dat die skip nie gewas word voor dit sy bestemming bereik nie, is daar goeie rede daarvoor. “Volgens die internasionale organisasie vir dieregesondheid (IOE) kan die skoonmaak van hokke terwyl die skip nog op reis is stres en risiko’s vir die diere veroorsaak. Daarom beveel die organisasie eerder aan dat toepaslike kooigoed, soos strooi en saagsels, voorsien word om urine en mis te absorbeer.”

Hy sê die skip word, soos deur die IOE bepaal, ná elke reis skoongemaak en ontsmet. Hy voeg by dat skape nie tydens die reis gewas word nie aangesien dit ongunstige humiditeit kan veroorsaak en die skape kan laat rondgly.