Die uitvoermaatskappy Al Mawashi SA het verlede week aangekondig dit sal voortaan skape ook regstreeks by rooivleisprodusente en boere koop om na die Midde-Ooste uit te voer. Hy het reeds begin om afsetooreenkomste aan kommersiële boere toe te ken.

Mnr. JP Roodt, woordvoerder van Al Mawashi SA, sê hierdie strategie is gewild onder boere sedert dit ’n maand gelede bekend gestel is. Verskeie produsente het reeds ooreenkomste met Al Mawashi gesluit. Skaapboere van reg oor Suid-Afrika word nou genooi om die maatskappy vir afsetooreenkomste te nader.

“Al Mawashi SA bied markverwante pryse met ’n aansporing en boere bespaar op middelmankoste. Die klem op regstreekse handel met boere is ontwerp om vennootskappe te onderskraag en om inklusiewe groei en welvaart te skep.”

Al Mawashi het voorheen agente gebruik om skape aan te koop. Roodt sê die nuwe aankoopstrategie bied verskansing teen monopolistiese en kartelagtige gedrag wat kop uitgesteek het. Dié gedrag is volgens hom nie net nadelig vir boere nie, maar het ook handelsverhoudinge met die Midde-Ooste in gedrang gebring.

Al Mawashi beoog om in die 2022-boekjaar vier verskepings te doen waarvoor 280 000 skape aangekoop sal word. Afslaersmaatskappye, vennootskappe met vertroude agente en ’n sterk klem op regstreekse aankope van boere sal hiervoor ingespan word.

Mnr. Ilyaas Ally, besturende direkteur van Al Mawashi SA, sê daar was onlangs verskeie gunstige ontwikkelinge rondom die verskeping van lewende hawe. Eerstens, die regering se publikasie van die eerste wetsontwerp vir riglyne rondom die verskeping van diere wat toon dat die regering dit steun.

Tweedens, die hofuitspraak deur die Grondwethof waarin ’n aansoek van die nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) om te appelleer teen ’n hofuitspraak wat verlede jaar in die Makhanda-hooggeregshof gelewer is, van die hand gewys is. Die NDBV het hom verlede jaar tot die hooggeregshof gewend om ’n tussentydse interdik teen Al Mawashi se verskeping van skape na die Midde-Ooste te bekom. Die interdik is nie toegestaan nie.

“Al Mawashi SA en die plaaslike rooivleisprodusente het ook sterker en nader aan mekaar gegroei. Nou moet ons die model vir die aankoop van lewende hawe diversifiseer. Dit sal boere ook in staat stel om hul kuddes beter te beplan sodat Al Mawashi aankope vir verskepings vooruit kan doen.”

Ally sê dat die vraag in die Midde-Ooste na beraming op kort, medium- en lang termyn sal toeneem namate die bevolking groei. Dit skep ’n alternatiewe mark vir Suid-Afrikaanse veeboere, maar dit hang van hulle af of dié geleentheid ten volle benut sal word.

Boere wat belang stel in ’n vennootskap met Al Mawashi SA kan die aankoopkantoor by supportsa@kltt.com.kw of 043 748 3767 kontak.