Pres. Cyril Ramaphosa het strenger vlak 3-regulasies bekend gemaak. Suid-Afrika is nou onder die tien lande met die meeste Covid-19-gevalle wêreldwyd. Die alkoholverbod is die regulasie wat die landbou die ergste raak. Meer as 12 000 nuwe Covid-19 gevalle word per dag in Suid-Afrika aangeteken. ’n Entstof teen die virus is nog nie ontwikkel nie.

Volgens die hersiene regulasies wat in die Staatskoerant afgekondig is,

mag alkohol wel vervoer word vir die volgende doeleindes:

  • Wanneer dit verlang word vir bedrywe wat handreiniger, ontsmettingsmiddels, seep, alkohol vir nywerheidsgebruik en huishoudelike skoonmaakmiddels vervaardig;
  • Vir uitvoer;
  • Van die vervaardigingsaanleg na die opbergingsaanleg.

Die land het amptelik op Donderdagaand 26 Maart 2020 met sy inperking begin as poging om die kurwe van die verspreiding van die virus af te plat. Op 1 Junie het die inperking na vlak 3 beweeg, wat beteken het dat die meeste segmente van die land se ekonomie heropen is.

Ramaphosa het verduidelik dat die kabinet besluit het om die verbod op alkohol weer in te stel omdat daar “nou duidelike bewyse is dat die toelaat van alkoholverkope veroorsaak het dat hospitale, insluitend trauma- en hoësorgeenhede, weens voertuigongelukke en verwante trauma onder aansienlike druk geplaas word”.

Die meeste ongelukke en beserings kom glo saans voor. Daarom is die aanklokreël van 21:00 tot 04:00 weer ingestel. Dié reël sal van Maandag 13 Julie van krag wees. Mense moet tuis bly tensy hulle na en van hul werkplek moet reis of dringend mediese of ander hulp moet kry.

Ander

Die verbod op sigarette is steeds nie opgehef nie.

Daar is besluit om beperkinge te verslap op aktiwiteite wat ’n lae risiko vir siekte-oordrag inhou, en belangrik is vir ekonomiese en onderrigdoeleindes.

- Alle veilings sal toegelaat word en dieselfde reëls as wat vir die landbou geld, sal van toepassing wees.

- Parke sal oop wees om in te oefen, maar geen samekomste mag daar gehou word nie.

- Besoeke aan familie en ander sosiale aktiwiteite is steeds verbode.

- Die nasionale rampafkondiging word tot 15 Augustus verleng.

- Die dra van maskers is verpligtend.

Drankbedryf

Intussen het die wynbedryfsliggaam, Vinpro, gisteraand luidens ’n verklaring aangedui dat hy weet die kwessie rondom die uitwerking van plaaslike drankverkope op Suid-Afrika se gesondheidstelsel het die afgelope paar weke baie aandag in die media geniet en dat die kwessie deur die nasionale beheerraad vir die koronavirus bespreek is.

Vinpro het, saam met die drankbedryf, in kommunikasie met verskeie belanghebbendes en die owerhede gewaarsku teen verdere beperkings op drankverkope. Die organisasie het dit duidelik gemaak dat hy daartoe verbind is om met die regering saam te werk om die maatskaplike probleme wat verband hou met alkoholmisbruik en die impak daarvan op die gesondheidsektor, aan te pak.

“ ’n Verdere beperking op verkope sal ’n rampspoedige ekonomiese effek op die bedryf hê. Dit sal tot ’n miljoen mense wat deel vorm van die drankbedryf se waardeketting, ernstig raak.”

Die organisasie het op Twitter gesê die besluit sal ’n ernstige impak op die bedryf hê.