Die stap volg ná aanduidings dat Brittanje die Europese Unie (EU) kan verlaat sonder ’n onttrekkingsooreenkoms.

Die Britse parlement het die onttrekkingsooreenkoms met die EU afgekeur en die Britse premier, Theresa May, die mandaat gegee om terug na die onderhandelingstafel te gaan. As die onderhandelings nie slaag nie en die onttrekkingsooreenkoms nie goedgekeur of vir ’n tydperk van twee jaar verleng word nie, sal Brittanje die EU op 29 Maart verlaat sonder ’n onttrekkingsooreenkoms.

Me. Niki Kruger, hoofdirekteur van handelsregulasie by die Departement van Handel en Nywerheid, sê vir Suid-Afrika beteken dit sy ekonomiese vennootskapooreenkoms met die EU, waar onder meer marktoegang vir verskeie landbouprodukte bekom is, sal nie meer van toepassing wees op Brittanje nie. Suid-Afrika, as deel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu), het in 2016 die ooreenkoms met die EU gesluit.

“Ons voorkeurtoegang tot die Britse mark sal dan verval en ons sal die normale tariewe wat vir meeste lande geld, moet betaal.”

Om handelsontwrigting met Brittanje te voorkom het Sadu en Brittanje besluit om die ooreenkoms “voort te sit” as ’n alleenstaande handelsooreenkoms. Daar is egter ’n paar uitstaande kwessies wat uitgestryk moet word. “Indien Sadu en Brittanje nie teen 29 Maart die alleenstaande handelsooreenkoms bekragtig het nie, sal ons uitvoerders uitvoerbelasting moet betaal. Daar is van ons landbouprodukte soos sitrus en druiwe waar belasting van tussen 4% en 15% van toepassing sal word.”

Met altesaam 40% van die land se landbouprodukte wat na Brittanje uitgevoer word, sal dit beslis ’n impak op die sektor hê, sê Kruger.

Volumes

As deel van die alleenstaande handelsooreenkoms met Brittanje moes ooreengekom word op ’n tariefkoers vir die kwotas wat op landbouprodukte betrekking het.

Sy verduidelik verder dat die volume van die kwotas wat Suid-Afrika met die EU rakende die handelsooreenkoms in 2016 aangegaan het, onveranderd sal bly.

Dit is die tariefvrye uitvoer van 150 000 ton suiker en 80 000 ton etanol na die EU. Ook die tariefvrye uitvoer van ’n bykomende 60 miljoen liter wyn, wat meegebring het dat die land 110 miljoen liter Suid-Afrikaanse wyn tariefvry na die EU kan uitvoer.

Groter volumes is nou as deel van die alleenstaande handelsooreenkoms met Brittanje beding.

Dit beteken Suid-Afrika sal met die ondertekening van die nuwe handelsooreenkoms 70 miljoen liter wyn en 70 000 ton suiker ekstra net na Brittanje tariefvry kan uitvoer.

Landbouprodukte wat onderhewig is aan kwotas, is afgeroomde melkpoeier, botter, aarbeie, suiker, kristallynpoeier, blikkiesvrugte, bevrore lemoensap, appelsap, gis, wyn en etanol.

Geen Brexit-ooreenkoms

Om die kwessie in perspektief te stel, verduidelik Kruger dat as daar nie ’n Brexit-ooreenkoms is nie, en dus geen voorkeurhandelsooreenkoms tussen Brittanje en die EU sal bestaan nie, kan handel tussen Suid-Afrika, Brittanje en die EU moeiliker word.

Dit sal veral betrekking hê op Suid-Afrika se vermoë om insetprodukte van Brittanje te bekom vir die uitvoer van produkte met toegevoegde waarde of vervaardigde produkte na die EU, en andersom. Hierdie kwessie moet nog uitgepluis word. Suid-Afrika stel voor dat daar ’n oorgangsooreenkoms vir sowat drie jaar tussen hom, Brittanje en die EU toegelaat word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.