Die nuutverkose president het tydens sy eerste staatsrede in die parlement in Kaapstad gesê Suid-Afrika is ’n waterskaars land, wat op hierdie waardevolle en noodsaaklike bron staatmaak om die land se ontwikkelingsdoelwitte ’n werklikheid te maak.

Die voortslepende droogte oor groot dele van die land, en veral die Wes-, Oos- en Noord-Kaap het die Regering gedwing om die droogte tot ’n nasionale ramp te verklaar.

“Die land ervaar een van die mees rampspoedige droogtes in 'n eeu, wat die ekonomie, sosiale dienste en landbouproduksie beïnvloed het," aldus Ramaphosa.

Volgens Ramaphosa gee die rampverklaring die nasionale Regering die gesag om hul reaksie op die noodtoestand met die ondersteuning van alle provinsies te koördineer.

Hy sê dié ondersteuning sal verseker dat geïntegreede maatreëls, om provinsies wat die ergste getref is by te staan, versterk sal word.

Ramaphosa het sy waardering vir die inwoners van Kaapstad en die res van die Wes-Kaap wat waterbespaarmaatreëls noukeurig toepas, duidelik gemaak.  

Vroeër die week het die Stad Kaapstad aangekondig dat Dag Zero tot 4 Junie die jaar uitgeskuif is.