Stedelike mense se eiendomsregte word net soveel bedreig as boere se regte, maar hulle besef dit nog nie. As eienaarskap van kommersiële landbougrond bedreig word, word alle bates bedreig, het mnr. Leon Louw, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, gewaarsku.

Hy was een van verskeie sprekers wat by ’n eiendomsregkonferensie van AfriSake gewaarsku het dat die toekoms van eiendomsreg in Suid-Afrika ernstig in gedrang is. Hy het verwys na swart mense wat ná 20 jaar in die nuwe Suid-Afrika nog geen werklike eiendomsregte het nie. “Hoekom staan hulle nie op daarteen nie? Dit is soos in die ergste dae van apartheid. Niemand van ons sal ons eie eiendomsregte kan beskerm as swart mense nie ook private eiendomsregte het wat hulle sal wil beskerm nie.”

Twee loodsprojekte om aan grondbewoners in swart woonbuurte gratis volle einedomsregte te verskaf is tans met die hulp van die stigting aan die gang. Die oordragkoste van titelaktes teen R1 800 per eiendom word deur skenkings van die publiek moontlik gemaak, Die sakemagnaat, mnr. Christo Wiese, was onder die eerste om geld vir 200 transaksies te skenk.

Dr. Anthea Jeffery, hoof van spesialisnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudings, het gesê die SA Kommunistiese Party sien die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR)  as die pad vorentoe na ’n sosialistiese bestel. Meer as 40% van vorige en huidige lede van die Zuma-kabinet is lede van die SAKP en daar is ander, soos mnr Gugile Nkwinti waaroor daar vraagtekens hang.

“Die land sluit sy oë vir die NDR en praat nie daaroor nie om te verhoed dat beleggers afgeskrik word. Terwyl die ANC en SAKP sy werklike agenda deurvoer, word die publiek getroos deur die Nasionale Ontwikkelingsplan en die teenwoordigheid van mnr. Cyril Ramaphosa as vise-president.”

Mnr. Piet le Roux, navorser van Solidariteit, het 14 stukke wetgewing, beleidsvoorstelle en hofuitsprake voorgehou wat tesame eiendomsregte bedreig. Hy het gepleit dat alle burgerlike instellings moet saamspan om die bedreiging te stuit en die balans van kragte te verander.

AfriForum het ’n vyfpuntplan voorgestel wat insluit uitbreiding van eiendomsregte aan inwoners van informele nedersittings, die bevraagtekening van herverdeling as regeringsdenkraamwerk,  regsaksies om eiendomsreg te beskerm, verskansing van persoonlike bates en politieke en ekonomiese druk op internasionale vlak.