As die Amerikaanse beleid onveranderd bly, kan hierdie getal toeneem, aangesien die toenemende wêreldwye vraag na voerkorrels en sojabone vir veeproduksie, en na veeprodukte self, die verwagte groei van die Amerikaanse landbousektor aandryf.

Volgens mnr. Robert Mearkle, woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, het hierdie syfer sedert 2016 toegeneem. In 2016 is 2 335 H-2A-visums aan Suid-Afrikaners uitgereik om tydelik in Amerika in die landbou te werk. Verlede jaar is 5 508 sulke visums uitgereik.

“Elke jaar trek baie Amerikaanse boerderye en ondersteunende bedrywe voordeel uit die ondersteuning van duisende ervare plaaswerkers uit Suid-Afrika. Die meeste H-2A-reisigers gaan na plase in die Midde-Weste en suide. Die top-vyf state was Noord-Dakota, Kansas, Arkansas, Mississippi en Suid-Dakota.”

In ’n brief gedateer 28 Januarie 2021 wat deur mnr. Zippy Duvall, president van die Amerikaanse plaasburofederasie, aan topleiers van die Amerikaanse regering gestuur is, is versoek dat buitelandse burgers wat dringend as plaaswerkers in Amerika benodig word, vrygestel word van verskeie van Amerika se Covid-19-reisbeperkings.

Duvall skryf baie van die Suid-Afrikaanse H-2A-werkers het ’n unieke vaardigheid. Amerikaanse boere reken op hul tydige aankoms, terwyl hulle planne maak vir hul komende groeiseisoene.

Mearkle sê omdat die H-2A-visumprogram as noodsaaklik vir die Amerikaanse ekonomie en voedselsekerheid beskou word, is onder meer afstand gedoen van persoonlike onderhoude met Amerikaanse amptenare vir terugkerende H-2A-visumaansoekers of mense wat die eerste keer aansoek doen.

Me. Anina Steenkamp, ’n spesialis vir visumreëlings by die CV Placements-werwingsonderneming, sê die gevolge van Covid-19 op die bedryfs- en visumverwerkingstye van Amerikaanse konsulate in Suid-Afrika het probleme vir H-2A-visumaansoekers veroorsaak.

Hoewel die meeste Amerikaanse werkgewers die situasie verstaan het en geduldig was dat sommige Suid-Afrikaners ná die begin van die somerplantseisoen daar sou opdaag weens vertragings met die uitreiking van visums, kon ander Amerikaanse werkgewers nie wag nie en hulle het die dienskontrakte gekanselleer.

Sy sê meer Suid-Afrikaners soek werk in die Amerikaanse landbou as die beskikbare poster. Talle aansoekers weet ook nie dat Amerikaanse boere hoofsaaklik Suid-Afrikaners in diens wil neem wat reeds die nodige vaardighede en ervaring beskik om landboumasjinerie en ander toerusting te bedryf.

Mearkle sê Suid-Afrikaners wat tydelik as plaaswerkers in Amerika werk, moet steeds aan alle Covid-19-reisprotokolle voldoen. Dit sluit in die indien van ’n negatiewe Covid-19-toets, wat binne 72 uur voor vertrek aan die lugdiens en Amerikaanse doeane-amptenare gegee moet word.