AMIE het in reaksie op die berig “Hoendervere reggeskud vir oorlog oor invoer” gesê die drukgroep FairPlay se voortgesette verdraaiing van feite en pogings om onenigheid in die bedryf te saai, “is kwaadwillig, betreurenswaardig en benadeel Suid-Afrikaanse verbruikers”.

“FairPlay se mees onlangse bewerings dat Amie mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, wil ondermyn en die regering se besluit om tariewe op hoenderinvoer in te stel, wil uitdaag, is heeltemal ongegrond.”

Amie sê hy is simpatiek jeens Patel se moeilike taak om die uiteenlopende behoeftes in die plaaslike hoenderbedryf te balanseer, en is daartoe verbind om hom te ondersteun om oplossings te vind wat die ekonomie sal bevoordeel, werkgeleenthede sal skep en verbruikers sal beskerm.

“Ons herhaal ons verbintenis tot die pluimveesektormeesterplan – waartoe ons bygedra het en waarvan ons ’n ondertekenaar is – omdat dit die verskeie strukturele en ander probleme in die bedryf oplos, asook pogings uiteensit om die Suid-Afrikaanse braaihoenderbedryf te laat groei.

“Hoewel ons vryheid van spraak en elkeen se reg tot sy mening ondersteun, kan ons FairPlay se onlangse openbare bewerings oor ons beweerde ‘strydkas’ om teen Suid-Afrikaanse pluimveeprodusente te baklei, asook oor ons beweerde plan om teen die regering en Patel te stry, nie sonder beswaar laat verbygaan nie.”

Die assosiasie sê die feite is:

  • Amie het in September 2020 die aanlyn hulpbron ChickenFacts begin om Suid-Afrikaanse bedryfsbelanghebbendes, burgers en verbruikers van bewese feite oor die pluimveebedryf in Suid-Afrika te voorsien om hulle in staat te stel om ingeligte menings oor die kwessie te vorm.
  • Amie het nie ’n strydkas bymekaargesit om teen Suid-Afrikaanse pluimveeprodusente te baklei nie.
  • Amie ondersteun die regering se visie om die plaaslike braaihoenderbedryf te laat groei en is daartoe verbind om met hom en ander belanghebbendes gesprek te voer om dit te verwesenlik.

Amie sê hy het wel in Augustus 2019 sy lede gevra vir bydraes om hom in staat te stel om met die regering gesprek te voer oor die meesterplan en om druk teen buitensporige tariewe uit te oefen.

“Daar was nie in Augustus vanjaar enige oproep vir bydraes tot ’n strydkas om oorlog teen die regering te voer nie. Ons is ook nie betrokke in ’n misdadige, agterbakse of koverte komplot om Patel, die regering of die pluimveebedryf te diskrediteer of ondermyn nie.

“Ons was openlik en eerlik in ons beginselvaste teenkanting teen tariefproteksionisme en buitensporige invoertariewe en sal voortgaan om waar moontlik met die regering en ander belanghebbendes hieroor gesprek te voer, terwyl ons saam met pluimveesektor werk om die Suid-Afrikaanse braaihoenderbedryf te laat groei.”

Amie sê die inligting op die ChickenFacts-webwerf kom van verskeie gesaghebbende bronne, soos die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, FTI Consulting en die internasionale pluimveeraad, “en is daarop gerig om die waninligting en onwaarhede wat in die bedryf verkondig word, uit die weg te ruim”.