Suid-Afrika het nie meer en meer van dieselfde strategieë nodig om renosterstropery hok te slaan nie. Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die Vereniging vir Private Renoster-eienaars (PROA), sê hulle het al verskeie kere aan die Regering verduidelik dat die ontplooiing van die Weermag in die Kruger-wildtuin en nóg wildbewaarders nie die probleem gaan oplos nie.
 
Die organisasie stel steeds voor dat handel in renosterhoring gewettig word sodat ’n lewende renoster uiteindelik meer werd is as ’n dooie renoster. Jones sê hulle was baie teleurgesteld dat me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, nié ’n aansoek in dié verband betyds aan die internasionale komitee vir omgewingsbewaring Cites, voorgelê het nie.
 
Die volgende geleentheid daarvoor sal eers in 2016 wees, en teen daardie tyd kan Suid-Afrika al 2 000 renosters verloor het.

Een renoster elke 11 uur
Volgens die jongste statistiek van die staat is 96 renosters reeds vanjaar doodgemaak. Altesame 66 van dié renosters is in die Kruger-wildtuin deur stropers doodgemaak, en 34 verdagtes is al daaroor in hegtenis, met 13 vermeende stropers wat die afgelope week in die Wildtuin, Johannesburg en Limpopo aangekeer is.
 
Noordwes het in die eerste 44 dae van die jaar 11 renosters verloor, met 10 wat in KwaZulu-Natal doodgemaak is.
 
Intussen het Molewa haar tevredenheid uitgespreek met die voorgenome afkeuring van ’n aansoek van Kenia dat geen uitvoer van wit renostertrofees uit Suid-Afrika en Swaziland ten minste tot die CITES kongres in 2016 mag plaasvind nie.. Die voorstel sal wel nog tydens die CITES 13-kongres volgende maand in Bangkok, Thailand, bespreek word.
 
Jones sê hulle was ook gekant teen die voorstel, want dit sou vir die reeds sukkelende private sektor ’n groot terugslag gewees het.