Die party het egter nie die geleentheid gebruik om af te sien van die voorgestelde wysiging aan artikel 25 van die Grondwet ten gunste van onteiening sonder vergoeding nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het ná die vergadering gesê die besprekings op die lekgotla het gekonsentreer op wat gedoen moet word, deur wie, teen wanneer en met watter beskikbare hulpbronne. “Daar was ’n duidelike besef van die dringende toepassing (van planne), gegewe die slegte stand van die ekonomie en die hoë vlakke van armoede, ongelykheid en werkloosheid.”

Hy het gesê die verslae wat werkgroepe by die lekgotla ingedien het, bevat praktiese maatreëls wat na die ANC-strukture, staatsdepartemente, openbare ondernemings en ander gebiede van ontplooiing vir toepassing geneem kan word. Die dringendste verantwoordelikheid vir 2021 wat tydens die lekgotla bespreek is, is om die Covid-19-pandemie te oorkom, terwyl dit benadruk is dat werkskepping die middelpunt van die ekonomiese herstelplan moet wees.

Grondkwessie

Die lekgotla het sekere besluite rakende die grondkwessie geneem wat betrekking op die landbousektor het.

Ramaphosa het gesê soos die parlement werk om dringend die voorgestelde wysigings van artikel 25 van die Grondwet te finaliseer om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, het die lekgotla ingestem dat die herverdeling van grond aan landbouhervorming verbind moet word.

Die herverdeling van grond moet versnel en staatsgrond moet beskikbaar gestel word. Die herverdeling van grond moet die landbousektor steun, tot ekonomiese groei lei en betekenisvol armoede, ongelykheid en werkloosheid takel.

“Ons moet seker maak dat grondhervorming voedselsekerheid vir arm gesinne verbeter en voedselsekerheid vir die nasie handhaaf.”

Landboutransformasie moet bevorder word, insluitend vir groot en klein swart boere, wat verblyfsekerheid gebied moet word en die nodige landbou-ondersteuning moet kry soos toegang tot kennis, toerusting en markte.

Onteiening

In reaksie op die lekgotlabesluite sê mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en landbou-inligting by Agbiz, dat daar steeds ’n vlak van onsekerheid heers wat meegebring word deur die voorstel van die onteiening van grond sonder vergoeding. Die ANC moes oorweeg het om die nuwe wysingswetsontwerp op onteiening vir hierdie doel aan te wend en moes sy voorstel om die Grondwet te verander, heroorweeg het.

“Dit sal vertroue bring en beleggings moontlik maak.”

Me. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake, wys spesifiek uit dat rakende die besluite rondom grondhervorming, die wysiging van artikel 25 van die Grondwet moeilik sal kan bydra tot ekonomiese groei en die versterking van die landbou. “Die twee doelwitte is nie regtig versoenbaar nie, aangesien die dreigement van onteiening sonder vergoeding nadelig inwerk op kapitaalvorming, beleggersvertroue en derhalwe ekonomiese groei.”

Bemoedigend

Volgens Sihlobo is die lekgotlabesluite in die algemeen gunstig vir die landbousektor en het die ANC dalk nou tot die besef gekom van die ekonomiese bydrae wat die landboubedryf kan lewer. Daar is ook vooruitsigte van ’n toename in werkskepping in die landboubedryf, “gegewe dat ons ’n stabiele beleid het”.

Hy wys ook uit dat dit baie bemoedigend is dat die lekgotla uitgelig het dat staatsgrond aan begunstigdes beskikbaar gestel moet word en dat dit met verblyfsekerheid gepaard moet gaan.

“Die staat moet dit oorweeg om meer grond van sy grondvoorraad van meer as 2 miljoen ha aan begunstigdes beskikbaar te maak om toegang tot die landbousektor te verbreed.”

Die 700 000 ha wat die staat reeds beskikbaar gaan maak, sal ’n hupstoot wees om swart boere toegang tot grond te gee. Hy voeg by dat die staat dit moet oorweeg om die begunstigdes ná vyf jaar die opsie te gee om die grond te koop. Só ’n benadering sal help met die groei van private kapitaal.

Wat ook in ag geneem moet word om die sukses van hierdie boere te verseker, is finansiering. “Hier dink ek die grondhervormingsfonds, wat eerste voorgestel is deur die raadgewende paneel op grondhervorming en landbou waarvan ek ’n lid is, moet herleef om die gaping van die Land Bank se mislukkings te vul. Die kapitalisering kan deur private en internasionale skenkings, asook die verdeling van die begrotingsgedeelte vir grondhervorming gefinansier word.”