“Die gesprek met die ANC was van onmeetbare waarde en ons is optimisties oor die toekoms van volhoubare landbou in die land. Almal moet saamwerk om voedselsekerheid vir die land te verseker,” het hy gesê nadat die gesprek op Vrydag 7 September 2018 in Centurion plaasgevind het.

Meer as 200 lede van Agri SA se provinsiale strukture, kommoditeitskamer, korporatiewe lede en verteenwoordigers van landboubesighede het vergader met mnr. Fikile Mbalula, verkiesingshoof van die ANC, en drie lede van die party se werkskomitee, mnre. Ronald Lamola, Dakota Legoete en Enoch Godongwana.

Kriek het gesê hoewel die onderskeie partye oor sekere kwessies verskil en dit duidelik gestel het, is daar ook oor moontlike oplossings gepraat. Agri SA bly by sy standpunt dat dit nie nodig is om die Grondwet te verander om grondhervorming suksesvol toe te pas nie en sal sy planne aan die ANC voorlê.

Kernelement van die ekonomie

Mbalula het op sy beurt gesê hy is bemoedig deur die gees van samewerking uit die boeregemeenskap. “Ons glo volhoubare oplossings vir moeilike kwessies kan net deur dialoog gevind word. Die ANC wil veral ’n inklusiewe ekonomie skep en grond is ’n kernelement van die ekonomie.”

Hy het beklemtoon dat eiendomsregte nie bedreig word nie. Nasionalisering is nie ANC-beleid nie en grondgrype sal nie toegelaat word nie. Hy sê onteiening sonder vergoeding sal net in spesifieke omstandighede oorweeg word, soos by staatsgrond en onbenutte grond.

Godongwana, voorsitter van die ANC se komitee vir ekonomiese transformasie, het gesê die gesprekke het nie net oor onteiening sonder vergoeding gegaan nie. Daar is ook gekyk na die rol wat die landbousektor in die ekonomie kan speel. “Daar is verskeie terreine waarop ons kan saamwerk.”

Hy het beklemtoon dat die banksektor nie deur onteiening sonder vergoeding ontwrig moet word nie. “Bankinstellings hou R160 miljard skuld vir grond, waarvan R40 miljard by die Land Bank lê. Ons durf nie risiko’s vir hierdie sektor skep nie.”

Kriek het gesê hierdie is nie die eerste of die laaste gesprek met die ANC nie. “Die gesprekke was oplossingsgedrewe en ons sal ons voorstelle verder deurgee.”