Julius Malema se manewales op die ANC-jeugliga se kongres is te wyte aan die ANC en president Jacob Zuma se verset om hom voor stok te kry, reken die VF Plus.


Mnr. Jan van Niekerk, jeugleier van die VFPlus, het in ’n verklaring gesê Malema se uitsprake lei tot rassepolarisasie en ekonomiese onstabiliteit in Suid-Afrika. Lees hier oor dr. Pieter Mulder se reaksie op Malema se uitsprake.


Uitsprake skok opnuut

Malema het by die afsluiting van die konferensie, waar hy vir nog ’n termyn as leier van die jeugliga herkies is, opnuut beloof om “grond sonder betaling” te vat. Afgevaardigdes by die konferensie het ook opnuut die lied “Skiet die boer” gesing, aldus Nuus24.


“Die ANC het ’n monster grootgemaak wat hulle nie kan beheer nie,” sê Van Niekerk. “Malema se uitspraak dat die monopolie van wit kapitalisme die regte vyand is, asook sy uitsprake dat wit mense grond van swart mense gesteel het, is niks anders as rassisme nie.


Verkiesing kwel

Volgens Van Niekerk is die oorweldigende wyse waarop Malema herkies is as leier van die ANC-jeugliga ’n ernstige bron van kommer.


“Die ANC-jeugliga se radikale denkwyse ten opsigte van die nasionalisering van banke en myne en die verregaande hantering van die grondvraagstuk is niks anders as ’n Robert Mugabe-benadering nie,” sê Van Niekerk.


Van Niekerk het gewaarsku dat indien die ANC nie vir Malema vasvat nie, dit verreikende gevolge vir Suid-Afrika en demokrasie in dié land kan hê.

* Die TLU SA het met kommer kennis geneem van die feit dat ANC Jeugleier, mnr. Julius Malema, onmiddellik ná sy herverkiesing, weer eens ‘n klimaat begin skep vir grondbesettings, en dat dit ook kan lei tot verdere aanvalle op boere.

Die landbou-unie sê in ‘n nuusverklaring “waar hierdie gebeure in die lig staan van die aanloop na die ANC se beleidskonferensie volgende jaar, is die TLU SA diep bekommerd dat sodanige uitlatings inderdaad regeringsbeleid kan word, wat katastrofiese gevolge nie net vir die boere nie, maar vir die land as geheel sal hê.

Malema se uitsprake, die moontlike gevolge daarvan en die TLU SA se verdere optrede in die verband, sal dringend bespreek word op Woensdag, 22 Junie, tydens ‘n uitvoerende komitee-vergadering van die TLU SA.


20 Junie 2011