Die landbousektor is deur die ANC in sy verkiesingsmanifes uitgelig vanweë die sektor se potensiaal om ’n diep duik in die land se werkloosheidgetalle te maak. Die party se soeke na vinniger grondhervorming en die beginsel van onteiening sonder vergoeding geniet ook heelwat aandag.

Die ANC beloof om die oorheersende rol van groot besighede ten opsigte van landbou-insette, die verwerking van landbouprodukte én in die kleinhandel van kos aan te pak.

Breë verwysing

Landbouweekblad wou by mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by Agbiz, weet of hierdie onderneming van die ANC nog ’n slag vir landboubesigheid is.

Boshoff sê die verwysing na landbou-insette is baie breed. Die landbouwaardeketting is kompleks en ’n inset kan enige iets wees van saad en kunsmis tot selfs finansiering en professionele dienste. Dit sal dus goed wees om duidelikheid te kry oor die tipe insette waarna verwys word.

Met insette soos saad, kunsmis, trekkers en werktuie moet ’n mens in gedagte hou dat besighede aansienlike hulpbronne in navorsing en innovasie moet belê om mededingend te wees. “Die multinasionale maatskappye wat in Suid-Afrika besigheid doen, is mededingend juis omdat hulle oor die skaal en kapitaal beskik om in navorsing en innovasie te kan belê. Sodoende bied hulle groot geleenthede aan Suid-Afrikaners om ’n loopbaan in navorsing en wetenskap te volg.”

Hy sê die konsepwysigings aan die Wet op Mededinging (Wet 89 van 1998) en drie stelle konsepregulasies is onlangs bekend gestel vir openbare kommentaar. Die konsepwysigings is gemik daarop om mededinging in sekere sektore te bevorder deur middel van strenger regulasies ten opsigte van prysdiskriminasie en koopkrag. “Ons sal die impak van die beoogde wysigings nou bekyk en kommentaar indien.”

Omvattende steun

’n Plan waarvoor in die verlede op menige platforms gepleit is, is ook in die manifes opgeneem. Die plan is dat alle regeringsondersteuning aan kleinboere saamgesmelt moet word om toe te sien dat die produksievermoë toeneem.

Dit sluit in die bemarking van hul landbou-aktiwiteite en die gesamentlike verwerking van produkte.    

Boshoff sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het reeds verlede jaar die omvattende beleid vir die ondersteuning van produsentontwikkeling vir kommentaar bekend gemaak. Hierdie beleid is tans onder oë by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac). Die doelstelling van die beleid is om ondersteuning aan produsente beter te koördineer – nie net tussen staatsdepartemente nie, maar ook tussen die staat en die private sektor.

Die beleid ondersteun onder meer die beginsel van gemengde finansieringsmeganismes en verwys na die behoefte om opleiding en voorligtingsdienste van die staat en bedryfsorganisasies beter te koördineer. “Hoewel die gedetailleerde ingrypings nog ontwikkel moet word om die doelstelling te bewerkstellig, is die klem op openbare-private vennootskappe baie bemoedigend,” sê Boshoff.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.