Mnr. Anthony Evans, 73, een van Suid-Afrika se bekendste boere, is na ’n siekbed van sowat agt maande aan kanker oorlede.

Dit was net ’n dag nadat een van sy bulle uit die bekende Huntersvlei-Sussexstoet, die oudste in die land, ’n nuwe rekordprys van R200 000 op die rasgenootskap se nasionale veiling in Bloemfontein behaal het.

Mnr. James Stephen, mede-Sussex-teler, sê Evans se dood is ’n groot verlies vir die Sussex-bedryf. Hy het waarskynlik die laaste 20 jaar die grootste bydrae deur enige Sussex-teler tot die Suid-Afrikaanse kudde gelewer.

Die Huntersvlei-stoet is in 1945 deur Anthony se pa, Rhys, begin, en is die oudste in die land.

Op Huntersvlei begin

Anthony het in die vroeë jare sewentig onder Rhys op Huntersvlei begin boer nadat hy aan onder meer aan die universiteite van Oxford en Harvard gestudeer het.

Onder sy leiding is die Rhys Evans-groep, wat al meer as 100 jaar buite Viljoenskroon bedryf word, die laaste dekades tot een van Suid-Afrika se voorste boerderye uitgebou.

Evans het die boerdery in ’n gediversifiseerde landbou- en verwerkingsonderneming omskep, wat 3500 ha kontantgewas-lande insluit waarop mielies, grondbone, sonneblom, sojabone en weiding verbou word.

Hy is ook deur Landbouskrywers SA in die 1980’s bekroon as nasionale Boer van die Jaar.

Boerdery 'n besigheid

’n Voerkraal, slagplaas waar hoofsaaklik varke geslag word, en grondboon-verwerkingsfabriek vorm ook deel van die onderneming, asook ’n kommersiële Sussex-kudde.

Anthony laat sy vrou, Jane, seun, David, en drie dogters, Robyn wat in Hongkong woon, Claire van Tanzanië, en Sally van Johannesburg, agter.

David, wat al ’n paar jaar saam met sy pa boer, sal nou die boerdery oorneem.