Volgens hom is verstedeliking, werkloosheid en hawelose mense alles deel van dieselfde probleem en die oplossing lê op die platteland.

Kalaba het op die onlangse Subtrop-transformasieberaad by Witrivier gesê Suid-Afrikaners kry dit reg om mededingend te boer ten spyte van beperkte landboupotensiaal ten opsigte van grond en water. “Ons kan egter steeds verbeter, want daar lê hektare en hektare se onontginde potensiaal in ons landelike gebiede, veral in die ou tuislandgebiede.”

Dr. Maanda Dagada van Mpumalanga se departement van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling sê baie huise in Bosbokrand, byvoorbeeld, staan op erwe van tot 3 ha en dit word nie benut nie. 

Gulde geleentheid

Kalaba sê die Afrika-vryhandelsooreenkoms wat op 30 Mei in werking getree het, bied Suid-Afrikaners die geleentheid om sy landboupotensiaal te ontgin. “Daar lê egter baie werk voor, want hoewel die handelsooreenkoms teoreties in werking getree het, is min van die strukture wat nodig is om so ’n handelsooreenkoms te laat werk gereed.

Dr. Mmatlou Kalaba van BFAP,
Dr. Mmatlou Kalaba. Foto: Jasper Raats

“Ons moet integreer met die res van die vasteland en binne die raamwerk van die vryhandelsooreenkomste onderhandel met markte waarmee ons probleme ondervind,” sê Kalaba. In ’n studie deur die Wêreldbank is beraam dat die landbouvoedselstelsel in 48 ontwikkelende en onontwikkelde lande suid van die Sahara $250 miljard werd is. “Ons moet tot daardie mark toetree.”

Dit beteken nie Suid-Afrikaners kan outomaties hul porsie van Afrika se potensiële voedselmark opeis net omdat hulle Afrikane is nie, sê hy. “Ons gaan moet meeding met lande soos China, Indië en selfs ander lande op die vasteland.” 

Dink anders oor handel

Produktiwiteit en groter landbouproduksie is die ooglopende sleutel tot die platteland se moontlike aandeel in Afrika se potensiaal, maar Kalaba sê in die konteks van die vasteland se voedselstelsel hoef ’n mens nie noodwendig altyd na die markte ten opsigte van formele, internasionale handel te kyk nie.

“Ek praat hier net van ons onmiddellike bure, Mosambiek, Swaziland, Zimbabwe, Botswana, Namibië en Lesotho. Ons moet dit vir oorgrenssmouse en kleinboere wat op 1 ha tot 5 ha boer, maklik maak om oor ons grense te verkoop. Sulke transaksies het min bystand nodig, want in die meeste gevalle praat mense aan weerskante van die grens dieselfde taal.”

Kalaba sê daar moet nou, in die lig van die vryhandelsooreenkoms werk gemaak word om die struikelblokke wat dié tipe handel belemmer, uit die weg te ruim. “Vyf lande grens aan Suid-Afrika en handel oor daardie grense moet eintlik natuurlik gebeur.”

Deur meer informele handel op die platteland te bewerkstellig, glo Kalaba, kan werklose jong mense die geleentheid gebied word om van bestaansboere tot kleinboere te ontwikkel wat hul surplusse op sulke markte kan verkoop. Die potensiaal om geld te verdien sal mense wat net op huishoudelike gebruik toegespits is, die geleentheid laat aangryp en surplusse laat begin produseer. Met mentorskap en leiding kan van hierdie kleinboere selfs kommersiële boere word wat hul plek in die formele mark, plaaslik en internasionaal, kan vol staan. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.