Appelboere in Grabouw sal dalk alternatiewe gewasse moet oorweeg indien modelle oor klimaatsverandering in die kol is oor temperatuurtoenames in die Wes-Kaap.

Volgens  dr. Stephanie Midgley, projekbestuurder van die SmartAgri-plan in die Wes-Kaap, toon klimaatmodelle dat dié provinsie teen 2050 sowat 1,5 °C tot 3 °C warmer sal word, hoewel hulle hoop dit kan tot 2 °C beperk wees. Meer warm dae per jaar word ook verwag.

Sy sê ’n seisoenale skuif in reënvalpatrone is ook opvallend. Winterreënval verminder en skuif na September tot Desember. Minder reënerige dae word verwag, maar wanneer dit reën, sal dit hewiger neerslae wees.  Volgens klimaatmodelle sal die westelike deel van die provinsie meer geneig wees tot droër toestande. Die hoeveelheid koue-eenhede gaan ook in veral Mei daal.

Afname in koue-eenhede

“Teen die middel van die eeu sal ’n afname van 7% tot 17% in koue-eenhede in die Bokkeveld (naby Ceres) waarneembaar wees. ’n Ander studie meen dit sal tussen 13% en 20% wees, maar selfs met die afname sal die Bokkeveld steeds gunstig vir appelproduksie wees. In Grabouw en Villiersdorp, waar die projeksies op ’n afname van 19% tot 34% dui, sal daar ernstige gevolge vir appelproduksie wees.”

Volgens Midgley, ’n genooide spreker by die Inmaakvrugteprodusentevereniging en Droëvrugte Tegniese Dienste se tegniese inligtingsdag vir vrugteprodusente op Robertson, sal die veranderinge onder meer ’n invloed op besproeiing en vruggehalte hê.

“Ons sukkel reeds met probleme soos sonbrand en kleur, maar ons kan verwag dat dit sal erger word soos die temperature toeneem. Sommige studies meen boere sal 8% tot 10% meer moet besproei net om op te maak vir die waterverliese deur transpirasie weens die hoër temperature, ongeag die reënval.”