Mnr. Johan van den Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige, sê goeie neerslae van 20 mm tot 50 mm is in die eerste helfte van April moontlik oor groot gedeeltes van die somerreëngebied, wat ook die westelike dele van dié gebied insluit.

Die winterreënstreek kan in April ligte neerslae verwag. Weermodelle dui aan dat die werklike winterreënval op die normale tyd tot ietwat later as normaal (vanaf middel Mei) kan begin. “Die huidige voorspellings dui aan dat die kans goed is vir gemiddelde tot bogemiddelde reën in die midwinter, dus Junie en Julie.”

El Niño, La Niña

Van den Berg sê die voorspelling word versterk deur die Antarktiese Ossilasie (AAO) -indeks, wat soos die El Niño Suidelike Ossilasie (Enso) -indeks en Indiese Oseaan Dipool (IOD) -indeks neutraal is. “Die AAO bepaal dikwels die tyd en frekwensie wanneer koue fronte verder noord- of suidwaarts beweeg.”

Die Enso- en IOD-indeks is al van Desember verlede jaar af in neutrale fases. Weermodelle dui aan dat dit sal voortduur tot ten minste die middel van die winter.

“Hoewel dit nog baie vroeg in die voorspellingseisoen is, lyk dit asof daar ’n kans van net 20% is vir El Niño-toestande in die 2020-’21-somerseisoen, met ’n kans van ongeveer 40% vir La Niña en 40% vir neutrale toestande.”

Droogte

Die droogte oor die westelike dele van die land is slegs plek-plek gebreek, met min opvolgreën wat in die jongste twee weke oor die betrokke gebiede voorgekom het. “In baie gevalle is daar tans ’n sogenoemde groen droogte met opslagplante en onkruid, maar baie min gras en ander weidingsplante wat groei.”

Van den Berg sê daar is dele in die Noord-Kaap, soos wes van Jan Kempdorp, waar meer as 200 mm al voorgekom het. Gebiede rondom Douglas en suid daarvandaan het goeie neerslae gehad. Ook plekke soos Prieska en Askham het in die afgelope maand sowat 60 mm gehad.

Die groeityd vir weiding raak egter nou min, veral met koeler temperature wat na verwagting in April kan voorkom. Sowat 60% van die totale veldproduksie in die sentrale tot westelike dele van die land kom in die tydperk van Februarie tot April voor.

Wat die res van die somerreënvalgebied betref, het reën in die afgelope twee weke oor die baie droë oostelike somergraangebiede van die Oos-Vrystaat en Mpumalanga voorgekom. Distrikte soos Frankfort en Vrede in die Oos-Vrystaat en Bethal, Morgenzon, Standerton en Witbank in Mpumalanga, asook Heidelberg in Gauteng het minder as 70 mm die afgelope vier weke gekry. “Die reën wat onlangs voorgekom het, was te min en te swak verspreid om skade aan die somergraanoes te voorkom. Skade van tot 50% of meer van die potensiële opbrengste het in sekere gebiede voorgekom.”

Produksietoestande

Van den Berg maan dat die reën wat in April kan voorkom, die oesproses van somergewasse kan vertraag. “Een van die volgende take van boere is die oes van droëbone wat begin ryp word. Dit moet redelik vinnig geoes word wanneer dit oesgereed is. Vir hulle is reën in die oestyd ongewens, want dit kan die oesproses vertraag en gehalteprobleme veroorsaak.”

Met die verdere reën wat in April verwag word, en die eerste ryp wat eers begin Mei verwag word, lyk dit asof die oestyd van veral mielies vertraag kan word, veral die mielies wat in die sentrale tot westelike dele van die land aangeplant is. “Landerye in sekere gedeeltes van die westelike produksiegebiede is steeds baie nat. Verdere reën in April saam met laer temperature kan die afdroogproses baie vertraag,” sê Van den Berg.