Astral se inkomste het in die ses maande tot 31 Maart met 15% gestyg, sy bedryfswins met 393% en sy wesensverdienste per aandeel met 455%.

Ander faktore wat ’n rol in dié resultate gespeel het, was dat die wins in die vergelykende tydperk baie laag was, dat voerkoste in die jongste halfjaar beduidend laer was danksy die goeie 2017-mielie-oes, dat die balans tussen vraag en aanbod produkpryse ondersteun het en dat daar nie voëlgriepvoorvalle was nie.

Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof, het Maandag met die bekendstelling van die resultate in Johannesburg gesê die pluimvee-afdeling se inkomste het met 23% gestyg en braaikuikenverkope met 12,6%.

Die afdeling se bedryfswins het van R22 miljoen in die vergelykende halfjaar tot R836 miljoen in die jongste halfjaar gestyg.

Die afdeling het ’n bykomende R9,7 miljoen bestee aan groter voorsorg teen listeriose.

Die verbeterde doeltreffendheid op plase behels veral ’n beter voeromsettingsverhouding danksy ’n nuwe voerprogram. ’n Paar jaar gelede was sowat 2 kg voer vir die produksie van 1 kg vleis nodig, maar dit het nou vir die eerste keer tot onder 1,5 kg voer vir 1 kg vleis gedaal.

Schutte het gesê dié vordering het vir die maatskappy ’n bykomende R58 miljoen beteken.

Die vrektekoers van die hoenders is boonop verder verlaag.

Hy het gesê op grond van Astral se produksiedoeltreffendheidsfaktor is die maatskappy in top 10% van die wêreld se hoenderprodusente.

Wat vooruitsigte betref, het Schutte gesê daar is in die algemeen in Suid-Afrika nou beter sakevertroue en moontlikhede vir buitelandse belegging danksy die land se nuwe President.

Astral self beplan kapitaalprojekte van R1,3 miljard in die volgende drie jaar.

Die verwagte goeie mielie-oes vanjaar is ’n verdere gunstige faktor in die komende maande. Die maatskappy meen hy kan die genetiese potensiaal van sy Ross-braaikuikens nog verder optimaliseer.

Hy verwag egter strawwe mededinging van ander produsente wat hul produksie uitgebrei het en dat die lae prys van varkvleis weens listeriose hoendervleispryse kan beïnvloed.

Die invoer van hoender uit veral Amerika en Brasilië, wat in die jongste halfjaar gelykstaande was aan meer as 40% van die plaaslike produksie, sal na verwagting voortduur.

Voëlgriep bly ook ’n groot bekommernis in die komende winter, het Schutte gesê.