“Ons graan het begin swaarkry, maar die reën was net betyds. Alles lyk beter vanoggend,” sê mnr. Hannes Eksteen van die plaas Meulsteenvlei by Piketberg.

Hy het 13 mm reën gemeet. Die koue weer is goed, maar hulle moet nog opvolgreën kry.

Dit was veral koring wat laat geplant is, wat begin swaarkry het en waaraan die reën ’n groot verskil kan maak. Eksteen sê die beeste het klaar gekalf en die weiding lyk goed. “Die hawer wat vroeg geplant is, staan al heuphoogte.”

Mnr. Cobus Bester van UD Boerdery by Moorreesburg sê hulle is baie dankbaar oor die 8 tot 25 mm wat hulle so streep-streep gekry het. Omdat die winter so laat begin het, is hul koring ten minste twee weke laat. Hy sê ook die koring wat vroeg geplant is, vaar beter.

Al lyk hulle medics beter na die reën, het dit swaargekry in die 25 dae tussen Julie en Augustus se reën. Bester sê die dekgewasse lyk goed en help dat hulle genoeg kos vir hul skape het.

Uit die Overberg, wat vanjaar ’n goeie jaar beleef, laat weet mnr. Hume Schönfeldt wat by Caledon boer, “dis ’n bietjie nat”, met ’n paar versuipkolle in die graan.

Hulle het al amper 300 mm reën gekry, wat die jaar na aan normaal maak.

Hy merk op dat die koring wat ná ’n dekgewasmengsel van medics, wieke, erte en Saiahawer geplant is, baie goed lyk. “Ek kan die verskil sien tussen dié koring en koring wat na ander gewasse geplant is.”

Suid-Kaap lyk 'uitsonderlik mooi'

Nadat die reënseisoen by Swellendam en omstreke laat begin het, wink ’n bogemiddelde oes en lyk dit nou “uitsonderlik mooi”, sê mnr. Henk de Beer, hoofbestuurder van bedrywe by Sentraal-Suid Koöperasie op Swellendam.

“Ons weet egter dat Augustus altyd ’n kritieke tyd is. Nog reën is dus baie welkom en inderdaad nodig om die oes ‘klaar te maak’. Ons het vroeg in Augustus reeds ’n bietjie reën gehad wat ’n goeie begin vir die maand was. Ons sien uit na nog so een of twee goeie buie om ons deur te trek.”