Dit volg nadat meer as 1 400 mm reën binne die eerste paar dae van Februarie oor die noordoostelike dele van onder meer Queensland en Townsville in Australië voorgekom het, en tot grootskaalse oorstromings gelei het.

Luidens berigte deur 7 News in Australië het boere sowat 500 000 stuks vee verloor. Sowat 20 miljoen ha is glo oorstroom. Talle noodlenigingsoperasies is aan die gang om voer by boere te probeer kry om hulle te help om hul vee – wat reeds weens die droogte swak is – aan die lewe te hou.

Me. Jodi Keough, ’n boer, sê weens die erns van die krisis wat hulle beleef, is hulle nou nie meer aangewese op hulp wat individue kan bied nie, maar op bystand van die regering en banke. “Ons word in die gesig gestaar deur die moontlikheid dat ’n primêre bedryf ineen kan stort.”

Elders in dié land en in dié streek gaan boere egter steeds gebuk onder ’n ernstige droogte wat al sewe jaar lank duur. Mnr. Scott Sargood, ’n boer van die suidwestelike dele van Queensland, het aan 7 News gesê: “Hierdie is ’n bewys van hoe Australië is. Ons het al hierdie belewenis gehad, glo dit of nie . . . Maar ek dink ons is tans beter af.”

Mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, het ’n boodskap van ondersteuning aan die boere van Australië gestuur, en hulle ook ingelig oor die erge weerstoestande waaronder Suid-Afrika se boere tans gebuk gaan.