In dele van die Oos- en Suidoos-Vrystaat, asook op Mpumalanga se Hoëveld is minimum temperature van -5 °C en laer onder meer op 3 Junie gemeet. Sterk wind het voorgekom, wat die aanvoelbare temperatuur verlaag het.

Reën het oor die kusgebiede van Port Elizabeth tot suid van Durban, asook oor die noordelike dele van KwaZulu-Natal en die aangrensende dele van Mpumalanga voorgekom. Koffiebaai het oor die eerste ses dae van Junie sowat 150 mm reën gemeet, Port Edward in KwaZulu-Natal het 140 mm gehad en Margate 136 mm. Op Kokstad is 90 mm en op Richardsbaai is 70 mm gemeet, terwyl neerslae van 13 mm tot 26 mm op Ermelo, Barkly-Oos, Nelspruit, Skukuza en Gqeberha gemeet is, terwyl neerslae van minder as 10 mm wyer voorgekom het.

“Baie koue toestande met swaar ryp kan van middel Junie oor groot gedeeltes van Suid-Afrika voorkom,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Min reën word vir bykans die hele land verwag tot 15 Junie, terwyl ligte neerslae oor die westelike binneland rondom 8 tot 10 Junie voorkom terwyl ’n swak frontale stelsel oor dié deel van die land beweeg.”

Van den Berg sê van die middel van die maand kan die volgende sterk frontale stelsels reën na die Wes-Kaap bring, terwyl dit ook reën langs die suid- en ooskus tot so ver as die noordelike kusgebiede van KwaZulu-Natal kan veroorsaak.

Een van die groot redes vir die lae dagtemperature en bewolkte toestande is die uitwerking van ’n groot deel van die westelike Indiese Oseaan (vanaf die ewenaar tot verby Kaapstad) wat heelwat koeler as normaal is. Dit voer koeler lug in en veroorsaak lae dagtemperature en bewolkte toestande.

Produksietoestande

Van den Berg sê vir die wintergraangebiede het die winter goed begin. Die groot vraag is wat tot einde September gaan gebeur. Veral September is uiters belangrik, want dan is grane in belangrike reproduktiewe stadiums en plante het baie water nodig wanneer dit warmer word.

Hy sê die gemiddelde reënval op lang termyn op plekke soos Malmesbury, Moorreesburg en Hopefield in die Swartland is van 180 mm tot 230 mm vir die tydperk van 1 Junie tot 30 September, terwyl Bredasdorp en Swellendam dan gewoonlik rondom 200 mm ontvang. Die meeste van die Swartland se reën kom gewoonlik in Junie voor en dit neem geleidelik af na September toe.

Die Suid-Kaap en die Rûens kry gewoonlik meer reën in die tweede deel van die winter, in Julie en Augustus. Vir al dié gebiede is die gemiddelde reënval in September tot 40% minder per maand as in die tydperk van Junie tot Augustus, wat tot gevolg het dat wintergraanoeste – wat gewoonlik in September baie reën nodig het – droogteskade kan opdoen.

Van den Berg sê volgens die huidige vooruitskouing, gegrond op reënvalstatistieke van soortgelyke jare in die verlede, is die kans meer as 70% dat ten minste gemiddelde reënval vir die tydperk van Junie tot einde September kan voorkom oor die Swartland, die Suid-Kaap en die Rûens. Volgens dié voorspellings kan September egter droër wees.

In soortgelyke winterseisoene in die verlede het slegs 50% van die jare bogemiddelde reënval gehad. Dit is veral in die Swartland waar die jare met ondergemiddelde reënval baie ver ondergemiddelde reën in September gehad het.

Die Niño-gebiede

Op langer termyn lyk dit asof neutrale toestande gaan heers in die Niño-gebiede vir ten minste die volgende ses maande. Die stand van die Indiese Oseaan gaan veral ’n groot rol speel wat somerreënval betref, met die huidige koeler as normale temperature in die westelike Indiese Oseaan en voorspellings van gemiddelde tot ondergemiddelde temperature vir die komende maande wat gunstig kan wees vir somerreënval.