“Maksimum dagtemperature gaan bo 35 °C wees oor die westelike en noordelike binneland. Oor die sentrale binneland word 30 °C tot 35 °C verwag,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Selfs in die oostelike binneland, wat Mpumalanga, die Oos-Vrystaat en KwaZulu-Natal insluit, kan temperature rondom of bo 30 °C voorkom.”  

Sedert die aanvang van die lente kan nag- of minimum temperature in die komende weke konstant bo 10 °C oor die grootste deel van Suid-Afrika wees, en selfs bo 15 °C in die warmer westelike en noordelike gebiede. “Dit is goeie nuus vir die aanplanting van somergewasse, asook om permanente gewasse soos druiwe se groei en ontwikkeling, wat tans baie stadig is, te stimuleer,” sê Van den Berg.  

Ryp en koue

Die warmer temperature volg nadat die eerste deel van Oktober gekenmerk is deur ondergemiddelde temperature, met minimum temperature naby vriespunt die eerste tien dae van die maand oor groot dele van die sentrale tot suidelike en suidoostelike binneland. Eenjarige gewasse soos koring en aartappels, asook permanente gewasse soos druiwe, pekanneutbome en vrugtebome soos perskes, het ryp- en koueskade ervaar in die eerste twee weke van Oktober.

“Hierdie neiging van later as verwagte rypdatums kom al die afgelope vier tot vyf jaar voor. Ernstigste rypskade wat finansiële verliese inhou, is rondom 30 Oktober 2019 oor dele van die land aangeteken,” sê Van den Berg. Die kans dat ryp oor die algemeen later as 15 September oor die sentrale tot suidelike dele voorkom, is ongeveer 20% tot 30%. Die later as verwagte ryp is ’n groot bedreiging vir die volhoubare produksie van gewasse soos koring en druiwe in die Vrystaat en Noord-Kaap.”

Reën 

Intussen het wydverspreide reën sedert verlede week oor die suidoostelike, oostelike en noordelike binneland geval. Die swaarste reën was op die Tuinroete, waar plekke soos George, Mosselbaai en Plettenbergbaai meer as 50 mm gemeet het. Neerslae van meer as 20 mm het ook voorgekom in KwaZulu-Natal met Richardsbaai en Durban wat ook meer as 50 mm reën gekry het.

In die Oos- en Suid-Kaap het Stormsrivier, Tsitsikamma, Swellendam, Riversdal en selfs Joubertinia meer as 30 mm reën aangeteken. Goeie neerslae het ook in Noordwes voorgekom, met Marico wat meer as 50 mm gemeet het. In Limpopo het die distrik Tzaneen tot 50 mm gemeet. Dit sal baie help met wateraanvulling van damme in dié gebied wat byna leeg is.

Van den Berg sê op kort termyn het die reënvalvoorspellings verswak. Baie min reën word vir bykans die hele Suid-Afrika tot einde Oktober verwag, met die uitsondering van die oostelike dele en verre noordelike dele van Namibië. “Toestande vir reën gaan verbeter van begin November af oor veral die sentrale tot oostelike binneland. Die verwagte warm en droë tydperk tot einde Oktober is hopelik die oorgang tussen winter en somer.”

Op langer termyn is dié voorspelde droë en warm tydperk tot einde Oktober nie uit pas met voorspellings van gemiddelde tot bogemiddelde reënval vir die 2020-’21-somerseisoen nie. “La Niña-toestande is dikwels verantwoordelik vir ’n ietwat later begin van die somerreënvalseisoen. Dit begin gewoonlik eers opbou van middel November af. Daar het reeds neerslae van meer as 50 mm in die oostelike dele van Suid-Afrika voorgekom, wat ’n aanduiding is die verwagte droë tydperk is net tydelik van aard,” sê Van den Berg. “Indien dit middel tot einde November steeds droog bly, is daar rede tot kommer. In Australië het goeie reënneerslae al voorgekom, maar dit is swakker as wat aanvanklik verwag is.”

Van den Berg beveel aan dat lusernboere voor einde Oktober sny en baal, veral met verbeterde reëntoestande wat van begin November verwag word. Hy sê dit is ook raadsaam dat boere voldoende besproeiing toedien in die verwagte warmer toestande in die komende weke.