Mnr. Craig Polkinghorne van Standard Bank sê dit is veral bemoedigend dat in die begroting op die landbou gekonsentreer is aangesien dié sektor werk aan verskeie mense verskaf.

Hy meen die verbetering van biosekerheid, waarvoor R495 miljoen begroot is, is noodsaaklik om aan Suid-Afrika se handelsvennote te bewys dat plaaslike landbouprodukte en die verwerking daarvan aan internasionale gesondheidstandaarde voldoen. “Sodra Suid-Afrika aan dié standaarde voldoen, sal dit moontlik wees om handelsprotokolle vir landbouprodukte op te stel en geleenthede vir uitvoere uit te brei.”

Hy sê die verbetering van biosekerheid en die gevolglike uitbreiding van Suid-Afrika se handelsgeleenthede sal ook tot werkskepping lei, die handelsbalans verbeter en groei in die landbousektor stimuleer.

Vermindering

Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê dit is goed dat die minister gekonsentreer het op die vermindering van onnodige uitgawes, maar die uitvoering daarvan sal deurslaggewend wees.

Hy sê dit is veral gunstig dat R500 miljoen voorlopig begroot is vir rampbestuur, wat droogtehulp insluit. Hy voeg by dat die R500 miljoen wat vir grondrestitusie begroot is, kan help dat meer grondeise op mediumtermyn afgehandel word.

Maree meen die besluit om derdepartye toegang tot die spoornetwerk te gee, kan die uitvoer van landbouprodukte baat aangesien dit vervoerkoste kan verminder.