Dit is van die standpunte wat mnr. Cas Coovadia, uitvoerende hoof van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), by die Kaapstadse Persklub ingeneem het.

Mnr. Cas Coovadia, uitvoerende hoof van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa). Foto: Joylene van Wyk

Hierdie mening van die bankvereniging kom ’n dag voordat die Parlement ’n resolusie van die EFF oor die onteiening van grond sonder vergoeding ter wille van grondhervorming sal debatteer.

Mnr. Julius Malema, leier van die EFF, sal Dinsdag die resolusie in die huis voorstel vir oorweging.

Die ANC het reeds in Desember verlede jaar op sy konferensie besluit dat veranderinge aan artikel 25 van die Grondwet ondersoek moet word wat die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik kan maak.

Coovadia het dit onomwonde gestel dat die banksektor nie onteiening sonder vergoeding ondersteun nie.

Indien boere se grond sonder vergoeding onteien word, sal liederlike sistemiese probleme veroorsaak word vir die instellings wat sowat R180 miljard se lenings aan die landbou gemaak het. Belegging in nuwe boerderytegnologie en vernuwing wat produktiwiteit aandryf, sal weggedryf word. Die land kan ook die gevaar loop om internasionale voordele van inisiatiewe soos die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) te verloor.

Coovadia het dit ook duidelik gemaak dat die herstel van grondregte deur die vereniging as ’n geldige kwessie gesien word wat aangepak moet word.

Vereniging nader Nkwinti

Die bankvereniging het al saam met Agribesigheid, mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, genader om werkbare oplossings te vind. ’n Voorstel is gemaak dat R50 miljard vir ’n paar jaar beskikbaar gemaak word sodat plaaswerkers gehelp kan word om bewerkbare grond naby die reeds gevestigde plase te bekom waar hulle reeds werk. Die werkgewer moet dan 49% van die “nuwe” grond bekom en so saamwerk en verseker dat grondhervormingsprojekte slaag.

Maar niks het nog van hierdie idee gekom nie, en die vereniging en landboubesigheid sal weer probeer om hierdie inisiatief die lig te laat sien, het Coovadia aangedui.

Onteieningsdebat

Die EFF sal na verwagting ’n mosie indien dat artikel 25 van die Grondwet behoorlike grondhervorming kelder. Die oplossing daarvoor is dat grond sonder vergoeding onteien moet word en dat die staat die voog van alle grond in die land moet word.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het gesê die resolusies van die ANC berus op verkeerde diagnose van die probleme rakende die land se grondhervormingspogings.

Die SAIRV noem dat die grondoudit se syfers -- dat swart mense minder as 2% van die plaasgrond en minder as 7% van die grond in stedelike gebiede besit – verkeerd is.

“Hierdie syfers verwys slegs na geregistreerde eiendomme wat deur individue besit word.

“Die oudit kon nie ras identifiseer vir twee derdes van Suid-Afrika se grond nie, waarvan ’n groot deel staatsgrond is.” Daar is ook nie voldoende bewyse dat die betaal van vergoeding ’n beduidende struikelblok vir grondhervorming is nie, sê die SAIRV.