Lapointe, wat die voorwoord vir die boek geskryf het, sê Koro voer ’n sterk argument vir wetenskaplik geregverdigde jagkwotas en vir beleid wat die volhoubare benutting van hulpbronne tot die voordeel van die mensdom moontlik maak.

Dit is juis die stryd tussen ’n geromantiseerde beskouing van natuurlewe en die waardige bestaansreg van mense wat Koro in sy boek aanpak. Hy sê dit is verwronge persepsies van Westerse diereregtegroepe wat daartoe bydra dat mense op die Afrika-vasteland brandarm is, al is hul lande ryk aan natuurlike hulpbronne.

“Ek het juis hierdie boek geskryf om vir die mense van Afrika te vertel wie en wat hulle verhinder om suksesvolle bewaring- en ontwikkelingstrategieë toe te pas wat die mens en natuurlewe se welstand op lang termyn sal verseker,” sê Koro oor sy boek.

Hy is ’n groot voorstander van handel in natuurleweprodukte. Hy sê handelsbeperkings op diereprodukte deur Cites het tot nou toe nie daarin geslaag om ’n enkele renoster of olifant te red nie. “Ten spyte van die verbod op handel is daar weekliks in die media reg oor die wêreld berigte oor renosters en olifante wat gestroop is, en oor die sluikhandel in hierdie diere se produkte.”

Niks beter as stropers

Koro sê diereregte-aktiviste en drukgroepe wat uit hul pad gaan om lande te oortuig om tydens Cites-konvensies teen handel te stem, is net so skadelik vir Afrika se natuurlewe as gewetenlose stropers. “Deur mense te verhinder om ’n inkomste uit die natuurlike hulpbronne in hul omgewing te verdien, laat sulke omgewingsaktiviste mense met geen rede om na die wild en natuur om te sien nie. Dit dwing mense om eerder met stropers as hul plaaslike bewaringsinstellings saam te werk.”

Koro sê diereregtegroepe wat hulle beywer om die volhoubare benutting van die natuurlewe te verhinder, is lafaards. “Hulle is dapper genoeg om vir arm inwoners van Afrika te vertel dat hulle nie mag jag of handel dryf in renosterhoring, ivoor of lewende diere nie, maar hulle is nie dapper genoeg om ander nasies en lande voor te sê oor die handel in byvoorbeeld olie nie – wat klimaatsverandering veroorsaak en in die proses natuurlewe en mense bedreig.”

Koro sê dis juis hoekom hy die boek geskryf het. “Ek wil sien dat elke inwoner van Afrika nie langer in armoede in geïndoktrineer word deur onregverdigbare beperkings op handel in ons wild en natuurleweprodukte nie. Ons is niemand se eksperiment nie.”