Daarom sien die landboureus Bayer ongelooflike moontlikhede vir beleggings hier, sê mnr. Jesus Madrazo, hoof van landbousake en volhoubaarheid in Bayer se afdeling vir gewaswetenskap.

Madrazo, ’n spreker op Agri SA se kongres, het met die grootste lof van Suid-Afrikaanse boere gepraat. Hy sê hulle is aktiewe spelers op die wêreldmark en deur hulle te help, help Bayer ook ander boere in die wêreld.

“Suid-Afrikaanse boere het ’n regering wat vernuwing steun en daarom kan nuwe ontwikkelinge in ’n vroeë stadium deur Suid-Afrikaanse boere benut word, wat aan hulle ’n mededingende voordeel bied teenoor lande wat stadiger by nuwighede aanpas.”

Hy het verwys na Suid-Afrika se aanpassing by GM-gewasse as ’n voorbeeld wat kleinskaalse boere gehelp het om hul opbrengste van minder as 1 t/ha tot tussen 4 t/ha tot 7 t/ha op te stoot deur beter insek- en onkruidbestryding. 

Madrazo, wat Suid-Afrika al verskeie kere besoek het, sê wat hy baie interessant vind van die Suid-Afrikanse landbou is dat dit ’n mikro-kosmos is van wat ’n mens in die res van die wêreld sien. 

Daar is groot kommersiële boere wat internasionaal meeding en voortdurend hul produktiwiteit verhoog. Dan is daar ook kleinskaalse boere wat hard werk om om ’n oes te behaal, nie net om hul gesinne te voed nie, maar ook om welvaart te skep.

“Ek is veheug om te kan sê dat die toekoms vir Bayer in Suid-Afrika lê en beleggings wat ons hier gemaak het, werp reeds vrugte af.” Hy het onder meer verwys na ’n saadaanleg en -laboratorium by Lichtenburg, navorsingsgeriewe by Petit, Rietgat en Malelane vir nuwe kultivarontwikkeling en ’n chemiese aanleg vir saadbehandeling by Nigel.

Hy het verwys na Bayer se verkryging van die saadmaatskappy Monsanto en sê dit was deel van hul visie om die toekoms van die landbou te vorm vir boere en ander mense en die omgewing. 

“Hierdie drie dra ewe veel gewig, want jy kan nie ’n beter toekoms vir boere verseker as jy die behoeftes van die gemeenskap en die gesondheid van die omgewing ignoreer nie.

Hy sê Bayer sien transformasie nie net as toegang tot die landbou vir meer mense in die land nie, maar ook transformasie tot ’n nuwe era van tegnologie tot voordeel van almal en veral nuwe toetreders.

Madrazo het ’n skenking van R1 miljoen aan die Agri Securitas-trustfonds aangekondig. Dit was die derde jaar dat die maatskappy ’n skenking maak.

“Ek sien uit daarna om met almal in die sektor saam te werk en om die landboutoekoms te help vorm en van Suid-Afrika ’n voorbeeld vir die res van die wêreld te maak.”

Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, het gesê dit is die grootste blyk van vertroue in Suid-Afrikaanse boere wat hy in ’n lang tyd gesien het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.