Die nasionale ekonomie het in die eerste kwartaal van vanjaar die derde agtereenvolgende keer ingekrimp, maar die landbou het stewig gegroei.

Dit is die eerste keer sedert einde 2018 dat die sektor weer gegroei het en mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, verwag die sektor gaan die res van die jaar sterk blý groei.

Volgens Statistieke SA se jongste syfers oor die land se bruto binnelandse produk (BBP) wat op Dinsdag 30 Junie bekend gestel is, het die nasionale ekonomie met 2% ingekrimp, terwyl die landbou-ekonomie met 27,8% gegroei het.

Statistieke SA skryf laasgenoemde hoofsaaklik toe aan stygings in die produksie van oesgewasse, tuinbou- en diereprodukte. Die sektor het 50 basispunte tot die BBP-groei bygedra.

Verlede jaar het die landbou weens onder meer die droogte en bek-en-klouseer elke kwartaal met van 4,5% tot 16,8% ingekrimp.

Sihlobo verwag die sektor gaan vanjaar op ’n jaargrondslag met gemiddeld 10% groei, vergeleke met verlede jaar se inkrimping van 6,9% op ’n jaargrondslag.

Dit sal danksy gunstige weerstoestande in die 2019-’20-produksieseisoen ondersteun word deur herstel in al die groot subsektore, naamlik lewende hawe, oesgewasse en tuinbouproduksie.

Vir oesgewasse word die naasgrootste oes verwag. Die verwagte mielie-oes is 38% groter, die sonneblomoes 13% groter en die sojaboonoes 8% groter. Die suikeroes sal na verwagting 1% groter wees.

Die tuinbousektor het volgens Sihlobo in die algemeen ’n goeie vrugteoesjaar gehad, met die sitrusbedryf wat onlangs gesê het hy het op ’n jaargrondslag 13% meer voorraad beskikbaar vir uitvoer vanjaar.

Die produksie van sagtevrugte het in die breë herstel, met appel- en peerproduksie onderskeidelik 5% en 1% hoër.

Vertroue klop nie

Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se indeks van landbousakevertroue was in die verlede ’n goeie aanduider van hoe die landbou-ekonomie gaan groei.

Die afgelope paar kwartale was landbousakelui se vertroue wankelrig.

Sihlobo verwag dit sal weens die pessimistiese sentiment wat Covid-19 veroorsaak, vanjaar só bly.

In die tweede kwartaal van vanjaar het die indeks tot sy laagste punt sedert die finansiële krisis geval, selfs al was landbou-uitset en handelstoestande, ondanks die inperkingsregulasies, beter.

Sihlobo verwag dat daar vanjaar dalk nie samehang tussen sakevertrouensvlakke en die prestasie in die sektor gaan wees nie.

“Die sentiment kan, weens die pandemie, terneergedruk wees, terwyl die landbou-ekonomie, danksy ’n verwagte groot uitset in al die groot subsektore van die landbou, goed kan presteer,” sê Sihlobo.