Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê daar was baie klem op maatreëls om staatsuitgawes in bedwang te probeer bring. Die belangrikste daarvan is seker dat parlementslede, lede van provinsiale wetgewers en bestuurslede van openbare ondernemings nie vanjaar salarisverhogings gaan kry nie. Hy voorsien dat die staatsdiens verklein sal word en dat die samesmelting van die departemente landbou en grondsake byvoorbeeld ná die verkiesing ’n werklikheid sal word.

Hy sê veral die gedeeltes in die begroting oor die landbou was vaag en baie op ontwikkeling gerig. Hy sal wil sien dat begrotings soos die R3 miljard aan die Land Bank met die samewerking met die private sektor aangewend word, wat ook waarde kan toevoeg. 

Stil ANC-parlementslede

Dr. Tinashe Kapuya, handelsekonoom, het ook gesê Mboweni se vaagheid in die begrotingsrede was doelbewus omdat dit ’n pynvolle begrotingsrede was.

“Dit was opmerklik hoe stil die ANC-parlementslede was, terwyl opposisielede die minister aangemoedig het. Hy was veral nie bang om die medisyne in staastsbeheerde maatskappye se monde te druk nie en dit moet verwelkom word dat die regering nie sal pa staan vir Eskom se skuld nie.”

Hy sê die groot vraag is hoe die R1,8 miljard vir 262 grondhervormingsprojekte, R3,7 miljard as bystand vir ontwikkelende boere en die Land Bank se R3 miljard bestee gaan word. Alles hang van die inwerkingstelling af.

Dr. Langa Simela, bestuurder van landbou-ontwikkeling by Absa, het gesê die verbintenis tot grondhervormingsprogramme is van deurslaggewende belang. Daar is voornemende boere wat al 20 jaar lank wag om gehelp te word. Sy sou ook graag meer aandag aan waterkwessies in die begroting wou sien.

Mnr. Wessel Lemmer, senior ekonoom by Absa, het dit as ’n neutrale begroting beskryf wat nie ’n groot invloed op die wisselkoers gehad het nie. Hy glo ook dat dit genoeg vertroue ingeboesem het om ’n kredietafgradering vry te spring.

Hy voel jammer vir die bedrywe soos wyn, gars en tabak wat onder die verhoging van die aksynsbelasting gaan deurloop, maar verwelkom die belofte dat die staat sterker wil optree teen smokkelhandel in tabak en sigarette.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.