Kragtariewe het die afgelope dekade met sowat 450% gestyg, wat beleggings in kragintensiewe landboubedrywighede aan bande lê en insetkoste drasties laat styg het.

“Boere hoop dat daar in die begroting aanduidings kom dat wetgewing gaan verander sodat boere hernubare energie aan die nasionale kragnetwerk kan verkoop,” sê prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom.

“Dan kan kleiner buitelandse en plaaslike beleggers dadelik in sonkragprojekte in die droë dele van die land belê, wat vir die boer ’n inkomste kan gee.”

Boere ly erg onder paaie wat verbrokkel en ander infrastruktuur soos kanale, damme en hawens wat nie in stand gehou word nie. Dit word vererger deurdat die staat deurentyd broodnodige geld vir die onderhoud van infrastruktuur gebruik om sukkelende staatsinstellings te stut, sê mnr. Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom by Absa. “Uitvoerhawens vir landbouprodukte moet doeltreffender gemaak word. Die infrastruktuur beperk landbou-uitvoer en logistieke koste is hoog. Toegang tot elektrisiteit vir besproeiing en die verkoeling en opberging van vrugte vir uitvoer is ook aan risiko onderhewig.”

Dieselrabat

Die dieselrabat is veronderstel om verligting vir die landbousektor te bring, maar slegs diesel wat regstreeks vir voedselproduksie benut word, kom in aanmerking. Boere moet aanteken hoeveel diesel vir ploeg, plant en stroop benut word. Brandstof om produkte na die mark of na verbruikers te versprei kom nie in aanmerking nie en die rabat is ook beperk tot die primêre landbou. Die res van die waardeketting vind nie daarby baat nie.

Daar is die afgelope jaar gewerk aan ’n beleidsdokument vir die verbetering van die stelsel. Mnr. Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA, sê daar word verwag dat Mboweni ’n aankondiging hieroor in sy begrotingsrede sal doen. “Vir die graanbedryf is die voorstel dat produsente vir 100% van die regmatige verbruik op die plaas se terugbetaling in aanmerking kan kom pleks van die 80% waarvoor hulle tans in aanmerking kom.”

Droogtehulp

Vergelykende opnames het al getoon dat die Suid-Afrikaanse landbousektor van die laagste vlakke van staatsondersteuning ter wêreld kry. “Intussen gaan die landbou en veral sekere streke van die land steeds gebuk onder die voortslepende droogte en die uitwerking kring uit,” waarsku Van der Walt.

Wanneer droogtehulp wel beskikbaar gestel word, soos die R300 miljoen wat onlangs aan die Noord-Kaap toegewys is, gaan die leeue-aandeel daarvan om munisipaliteite se gehawende waterinfrastruktuur te herstel en nie om voer aan veeboere te verskaf nie.

Verskeie lande se begrotings maak voorsiening vir die koste wat deur klimaatsverandering veroorsaak word en probeer die landbou weerbaar maak om mark- en natuurskokke te kan absorbeer, sê Willemse.

“In Suid-Afrika word baie min vordering gemaak om boerderye se weerbaarheid te verbeter, hoewel nuwe en kleinboere in die besonder daaraan blootgestel is.”

Waar talle regerings versekeringsubsidies aan boere verleen of ondersteuning bied om boere se inkomste in ongunstige klimaatsomstandighede te beskerm, kry kommersiële boere in Suid-Afrika geen sulke steun nie. “In die graanbedryf werk ons nou al lank aan oesversekeringvoorstelle. Die graanbedryf het veral die afgelope paar moeilike jare produksie- en prysrisiko beleef,” sê Van der Walt.

Die kombinasie van swak produksiejare weens droogte en lae pryse in goeie produksiejare het boere se winsgewendheid onder druk geplaas. “Oesversekering, of ’n bydrae tot die premies vir oesversekering, kan graanboere ondersteun om insetkoste kostedoeltreffend tydens moeilike produksieseisoene te bestuur en dit sal help om oorlaatskuld te verlaag.”

Ingevolge die Wêreldhandelsorganisasie se reëls is daar heelwat ruimte waarvolgens die regering landbou-ondersteuning deur subsidies en ramphulp kan uitbrei, sê Lemmer. “Ons maak nie voldoende daarvan gebruik nie en moet let op die vergunnnings sodat ons landbou-ekonomie nog verder kan groei.”

Van der Walt sê die terugvoer van die staat is dat hy nie geld het om droogtehulp of oesversekering te bied nie. Dit is waar dat die staat se skuldvlakke hoog is en dat baie geld aan die rente op skuld bestee word. “Ek meen die groter probleem is die toewysing van die beskikbare geld. Die een ding wat ons in die landboubedryf werklik in die begrotingsrede wil sien, is dat die landbou hoër op die voorranglys sal wees wanneer die beskikbare geld toegedeel word.”