As hy nie daarin slaag om besteding in toom te hou en sy inkomste aan te vul nie, wink rommelstatus in die nabye toekoms. Die begrotingstekort beloop reeds 5,9% van die bruto binnelandse produk en skuld as persentasie van die BBP het tot 60,8% opgeskiet. 

Teen hierdie agtergrond is daar kommer oor die vooruitsigte vir die landbousektor in ’n begroting waar moeilike keuses gemaak word. 

Die toedeling aan landbou het in die 25 jaar tot 2019 drievoudig toegeneem, van 0,5% van die begroting tot 1,7%, sê mnr. Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom van Absa. 

Ongelukkig word dié groter sny van die begrotingskoek eerder op administrasie en personeeluitgawes bestee as op noodsaaklike landbounavorsing en die verbetering van marktoegang. 

“Daar word genoeg finansiering aan die landbou toegedeel. Dit word net nie doeltreffend aangewend nie,” sê Lemmer. “Ons het nie die voorkeurmarktoegang in die handel wat ons mededingers het nie. Ons sukkel omdat ons sanitêre en fitosanitêre maatreëls, en laboratoriums nie op wêreldstandaard is nie. Ons infrastruktuur bevorder nie landbou-uitvoer nie, maar beperk dit, logistieke koste is hoog en basiese landbounavorsing het agterweë gebly.” 

Belastings

Daar word wyd verwag dat Mboweni gaan aankondig dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) minder belasting ingesamel het as waarvoor begroot is. Die regering benodig oor die volgende drie jaar ’n bykomende R150 miljard om sy fiskale teikens te behaal, sê me. Yolandi Esterhuizen, belastingpraktisyn en bestuurder van belastingvoldoening van Sage in Afrika en die Midde-Ooste.

Maar volgens die SAID het net sowat 3 miljoen belastingbetalers tot 97% van die inkomstebelasting verlede jaar betaal en dit verg dus ’n fyn balanseertoertjie om belastings te verhoog.

“Ek dink beslis daar sal ’n verhoging in belastingkoerse kom, selfs dat hy moontlik die BTW-koers nog ’n keer kan verhoog.” Dié koers is twee jaar gelede van 14% tot 15% verhoog.

Verhogings in die aksynsbelasting op drank en tabak sal boere nadelig raak. Verlede jaar het Mboweni ’n aksynsverhoging van 7,4% op wyn en brandewyn en 9% op vonkelwyn aangekondig, wat darem in ooreenstemming was met inflasie. Die vorige jaar se verhoging van 8,5% op wyn en brandewyn (ook vonkelwyn) en 6% op gefortifiseerde wyn is as teleurstellend bestempel. “Produsente as prysnemers aan die begin van die waardeketting ly in die meeste gevalle onder dié verhogings,” sê mnr. Luan van der Walt, ekonoom van Graan SA.

Brandstofheffing

Die brandstofheffing kan na verwagting met van 15c tot 20 c per liter styg, voorspel mnr. Kyle Mandy, belastingspesialis van PwC.  Hy verwag ook ’n stewige verhoging van tot 30c per liter vir die Padongelukkefonds.

Wanneer BTW en die brandstofheffings styg, plaas dit groot druk op die boere se kontantvloei, selfs al kan hulle in sekere gevalle dit terugeis, sê Van der Walt. 

“ ‘n Mens sal graag wil sien dat die stelsels die terugeis van BTW so vinnig en maklik as moontlik afhandel om druk op die produsente se kontantvloei te verlig.”