Hy en dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê dit is jammer dat droogtehulp nie spesifiek aandag gekry het nie. Hulle verwelkom egter die aankondigings oor hulp aan opkomende boere.

Makube sê steun aan beleggings deur die private sektor in opkomende boere is baie welkom. Die fyner besonderhede daarvan is belangrik, omdat inwerkingstelling tot dusver ’n kwessie was.

“Dit sluit ’n duidelike program vir gemengde finansiering deur die Land Bank in.”

Bemagtiging en veeartse

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het sy bedenkinge oor die aandag aan swart bemagtiging in die landbou. “Tot nou toe het almal gesien dit bring nie sukses nie. Gaan daar nou ’n ander uitkoms wees?”

Makube en Wait verwelkom, in die lig van die bek-en-klouseeruitbreking, die toekenning vir die verbetering van laboratoriums en die ontwikkeling van entstowwe.

Makube sê dit is baie goed dat R456 miljoen bewillig is vir die indiensneming van pas gegradueerde veeartse in plattelandse gebiede, as deel van hul verpligte gemeenskapsdiens.

Volgens Wait is dit baie belangrik dat die staat genoeg hulpbronne en gekwalifiseerde amptenare vir die uitvoering van maatreëls teen die siekte het.

Wait en Makube verwelkom verder die toewysing van geld vir die instandhouding van infrastruktuur. “Paaie wat nie in stand gehou word nie, beteken bykomende koste en tyd vir boere,” sê Wait.

Hy hoop die geld vir paaie word ook na provinsiale vlak gekanaliseer en dat die geld reg gebruik word.

Ook Van Zyl is bekommerd oor of die toekenning vir infrastruktuur, asook die inspuiting in gesondheid, ondersteun sal word deur die nodige kundigheid om gunstige resultate te verseker. 

Olifant in die kamer

Wait sê in die algemeen is dit belangrik dat die staat sy besteding doeltreffend bestuur om die begrotingstekort binne beheer te hou, omdat Suid-Afrika nie ruimte het om belasting verder te verhoog nie.

Oor die miljarde rande waarmee Eskom gehelp gaan word, sê hy die instelling se welstand is vir boere en die land belangrik.

Hy verwelkom dit dat Mboweni die geld nie “in ’n oop tjek” aan Eskom gee nie, maar dit koppel aan sekere vereistes.

Van Zyl sê Eskom se kwesbaarheid om krag teen bekostigbare pryse te lewer, is, saam met staatskuld, steeds “die olifant in die kamer”.

Hy sê “die voortdurende reddingsboeie wat na onder meer Eskom uitgegooi word, bring groot ontevredenheid terwyl kommersiële boere, wat vir kos op die tafel moet sorg, in die woestyn gelaat word.”

Wait sê dit is jammer dat die belasting op sigarette verhoog word, omdat dit onwettige handel sal aanspoor, maar hy welkom die feit dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens spesifiek aan onwettige handel aandag gaan gee.

Dieselrabat

Hy is bekommerd oor die invloed van die hoër brandstofheffing op die landbou se insetkoste. “ ’n Effense ligpunt is dat die dieselrabat verhoog word en dat ’n beleidsdokument vir die verbetering van die stelsel later vanjaar vir kommentaar gepubliseer kan word.”

Van Zyl is ook bekommerd oor die hoër brandstofheffing, “juis in ’n tyd waar ’n groot deel van die saaiboere reeds geruime tyd vasgevang sit in ’n knypende droogte, en weinig, indien wel enige, kapasiteit oor het om hul produksieproses te volvoer.”

Wait sê hoewel die landbou eers van koolstofbelasting vrygestel is, kan die sektor onregstreeks geraak word deur ’n heffing hiervoor op diesel.

Geld wat deur koolstofbelasting geïn word, gaan na die algemene staatskas. Wait sê dit sou beter gewees het om dit uit te hou om op kwessies te bestee wat met klimaatsverandering verband hou, wat ook droogtehulp kan insluit.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.