Mboweni lewer môremiddag die begrotingsrede.

Die landboubedryf het homself bewys as ’n veerkragtige sektor wat, met behulp van die regering, die ekonomie kan herbou en fiskale stabiliteit kan verbeter, sê Siweya. Van die nasionale ontwikkelingsplan tot die meer onlangse ekonomiese heropbou-en-herstelplan is daar oorweldigende erkenning dat die landbousektor groeimoontlikhede bied en die potensiaal het om verdere werkgeleenthede vir landelike gemeenskappe te skep. Die sektor het ondanks talle probleme winsgewend gebly. Dit moet beskerm word deur ’n gesonde beleidsraamwerk toe te pas, maar ook deur gebruik te maak van die kundigheid van kommersiële boere in die waardeketting.

Siweya sê dit is belangrik dat Mboweni nou die geleentheid aangryp om terug te keer na beste praktyke deur die regte instrumente te gebruik om onnodige uitgawes sonder aansien des persoons te besnoei. “Terwyl fiskale konsolidasie noodsaaklik is, moet enige belastingverhogings geskied met inagneming van die huidige ekonomiese omgewing en die potensieel nadelige uitwerking daarvan op ekonomiese groei.”

Dis ook baie belangrik dat verdere afgraderings deur kredietagentskappe vermy word. “Graderingsagentskappe en belanghebbendes in die finansiële mark sal ’n verbintenis tot fiskale konsolidasie wil sien.”

Produksie-insette

Agri SA hoop dat Mboweni aandag sal gee aan die hervorming van die elektrisiteitsektor. Elektrisiteit is ’n sleutelproduksie-inset vir die landbou. Boere is prysnemers, dus het stygende elektrisiteitskoste ’n regstreekse uitwerking op hul internasionale mededingendheid, aangesien hulle die toename in insetkoste moet absorbeer.

Dit is belangrik dat voorsiening gemaak word vir groter deelname deur die private sektor in die elektrisiteitsbedryf, spesifiek om elektrisiteit vir landelike gebiede te lewer via laespanningverspreidingsnetwerke. Dit sal Eskom in staat stel om voort te gaan met sy opwekkings- en transmissiefunksie, terwyl die private sektor kan bydra tot plaaslike kragopwekking om Eskom se elektrisiteitsvoorraad aan te vul en sodoende te help om te voorsien in die vraag na elektrisiteit en ook beurtkrag te vermy.

Finansiering

Ondersteuning vir die Land Bank is nog ’n belangrike element op Agri SA se wenslys van kwessies wat hy hoop aandag in die begroting sal kry. Net ’n kontantinspuiting van die staat sal nie die bank weer op ’n volhoubare trajek plaas nie. Daar is nou die geleentheid om ’n vennootskap tussen die openbare en die private sektor aan te gaan om hierdie doelwit te bereik.

Meer finansiering moet ook gebied word vir grondhervorming en ondersteuning aan opkomende boere. Die finansiering en ondersteuning vir die daarstelling van ’n landbou-ontwikkelingsfonds, wat gemengde finansiering en hulp vir die ontwikkeling van opkomende boere kan bied, moet oorweeg word.

Beter ondersteuning tydens rampe word ook gevra, asook dat genoeg geld beskikbaar gemaak word vir die doeltreffende instandhouding van pad- en logistieke infrastruktuur.

Daar word gewag op die terugvoering oor die voorgestelde dieselkortingstelsel (skeiding van die dieselkorting- en BTW-stelsel) om aandag te gee aan die vertraging van verwerking en betaling wat met die huidige stelsel ervaar word. Dan word gehoop dat oormatige verhogings in aksynsbelasting beperk sal word, want ’n uitermatige verhoging van aksynsbelasting kan ’n nadelige invloed op die wyn- en tabakbedryf hê.