Hy het boere by die onlangse Maluma-simposium in Tzaneen gemaan om nie die kwessie oor onteiening sonder vergoeding vooruit te loop nie. “Die parlementêre komitee wat daarna kyk moet eers aan die einde van Augustus aan die parlement terugvoer gee. Boere moet intussen op produksie fokus,” sê hy.

Lemmer verduidelik dat die landbou se bydra tot die land se ekonomiese groei en wys dat boere verantwoordelike burgers is wat 'n belangrike rol in die land speel. “Ons voedselinflasie het van 11,7% gedaal tot net onder 4%. Danksy boere is daar dus nie opstand en betogings oor hoë voedselpryse nie,” sê hy.

Hy sê ekonomiese vooruitsigte vir Suid-Afrika lyk goed met verwagte stygings in die pryse van uitvoerkommoditeite soos platinum en staal en 'n daling in die prys van ru-olie.

Dit is alles positief vir Suid-Afrika en vir landbou. Boere moet nie dat politiekery in die aanloop tot die verkiesing in 2019 hul fokus van landbou af haal nie.

“Ek het met boere gesels wat erken het hulle het goeie geleenthede laat verbygaan omdat hulle in 1994 op politiek gekonsentreer het, pleks van die landbou.”

Menseverhoudinge
Hy sê produsente moet eerder op goeie menseverhoudinge konsentreer. “Sonder goeie verhoudinge kan daar nie mentorskap plaasvind nie. Ons hoor van nuwe boere wat restitusie- of hervormingsgrond ontvang en verwag hulle moet binne 'n jaar of twee suksesvol boer, maar hoe lank neem dit 'n boer om die nodige kennis aan sy seun of skoonseun oor te dra?”

Die belangrikste verhouding tussen twee mense op die plaas bly egter die huwelik. Lemmer sê 80% van alle besighede wat misluk is as gevolg van egskeidings. Hy het boere dus gemaan om na hul eggenote om te sien en verhoudings binne en buite die boerdery te koester.

Hy sê boere moet ook 'n openhartige verhouding met hul banke hê.

“Jy moet met jou bank se landbou-ekonoom kan gesels oor jou boerdery se inkomste en wins en hoe jy dit kan aanwend om jou volle potensiaal as produsent te bereik.”

Net soos wat boere hulle boerderye bou moet hulle aan hul kredietwaardigheid bou sodat hulle toegang tot kapitaal kan verkry om die beleggings te maak wat hul wins en produktiwiteit sal verhoog.