Dit kom nadat ’n handelstaakspan, bestaande uit amptenare van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en belanghebbendes in die rooivleisbedryf, saamgewerk het om handelsvennote te oortuig om nie hul grense vir plaaslike rooivleis, suiwel, wol en dergelike produkte te sluit nie. Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het dié aankondiging op ’n nuuskonferensie in Pretoria gemaak.

“Suid-Afrika het wel sy status as bek-en-klouseervrye sone, sonder inenting-status, by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) verloor, maar die departement en private sektor het onmiddellik die situasie met Suid-Afrika se handelsvennote bespreek. Sodoende kon ons waarborge verskaf dat produkte wat nie bek-en-klouseer kan oordra nie, wel veilig is,” het Zokwana gesê.

Hierdie produkte sluit in gepasteuriseerde suiwelprodukte, ontbeende en verouderde rooivleis, wol, verwerkte huide en velle, vee-embrio’s en varkvleisprodukte uit bek-en-klouseervrye gebiede.

Zokwana het gesê die departement het handelsvennote in kennis gestel die oomblik toe bek-en-klouseer buite die bek-en-klouseergebied opgemerk is. Hy verskaf deurentyd die jongste inligting rakende die situasie aan Suid-Afrika se handelsvennote.

“Na aanleiding van hierdie verslae het verskeie handelsvennote handelsbeperkinge op die uitvoer van verwerkte produkte opgehef. Handel in veilige produkte na buurlande is grootliks aanvaar en, waar nodig, is die onderhandelinge begin om nuwe gesondheidsertifikate uit te reik. Ons het ook goeie vordering gemaak met onderhandelinge om markte in ander Afrikalande, asook die Verre- en Midde-Ooste, te heropen,” het hy gesê.

Zokwana het gesê die handelstaakspan het tot dusver goed daarin geslaag om die kommunikasie tussen die bedryf, provinsiale veeartse, die departement en handelsvennote te vergemaklik.

Namibië voer weer (sommige) produkte in

Intussen het die Namibiese departement van landbou, water en bosbou aangekondig dat hy weer sommige Suid-Afrikaanse produkte sal invoer. Dr. Albertina Shilongo, waarnemende hoof- veeartesnykundige beampte van Namibië, het in ’n verklaring aan invoerders gesê die Namibiese direktoraat van veeartesnykundige dienste sal weer die invoer van vars en bevrore varkvleisprodukte toelaat, mits bewys kan word dat die produkte kom van varkprodusente wat buite Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal is en deur die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye goedgekeur is.

Rou vleis wat voor 5 Desember geproduseer is en wat onder toesig van die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye afsonderlik opgeberg is om besmetting te voorkom, mag ook ingevoer word. Bale voer en kuilvoer mag ingevoer word, mits dit nie uit Limpopo, Mpumalanga of KwaZulu-Natal kom nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.