Strenger maatreëls sal voortaan geld waar groepe diere byeengebring word.

Die opheffing van die verbod kom sowat twee maande ná die instel daarvan op 4 Desember 2019 as ’n tussentydse maatreël om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom nadat die siekte in Limpopo uitgebreek het. Die Nasionale Landboubemarkingsraad is besig om te bepaal wat die finansiële impak van die verbod was.

Volgens Didiza het veeartse van plaas na plaas gegaan om diere te toets en te verseker dat die siekte nie buite Limpopo versprei nie.

“Ek verstaan die impak wat die verbod op die ekonomie gehad het, veral vir die afslaers wie se besigheid oor handel gaan, maar hulle het dit ook waardeer dat ons die hele rooivleisbedryf van Suid-Afrika beskerm het.”

Streng maatreëls

Didiza het dit duidelik gemaak dat hoewel die verbod opgehef is, geld streng beheermaatreëls voortaan om te verseker dat handel nie ’n risiko inhou nie. “Daar sal vereistes wees vir die hervatting van veilings. Veilings sal slegs gehou word onder streng voorwaardes en ook net deur die agente wat by die landbouprodukte-agenteraad (Apac) geregistreer is.”

Sy het benadruk dat verseker sal word dat diegene wat handel dryf, nie hoërisikodiere rondskuif nie. Dit sluit in diere wat tekens van siekte toon, van onbekende streke is en wat van gebiede is waar die siekte voorkom.

Die verantwoordelikheid vir dieregesondheid sal by die eienaar van die diere lê. “Dit is belangrik dat boere en bestaansboere goed na hul diere se gesondheid omsien ter wille van hulle eie verbruik, die bedryf en die ekonomie.”

Die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) sal gewysig word sodat elke dier identifiseerbaar is.

Opheffing verwelkom

Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, het die opheffing van die verbod verwelkom. Hy het gesê die bedryf sal saam met die departement werk en benadruk dat hy ook selfregulering sal toepas.

“Ons sal toesien dat die naspeurbaarheidstelsel toegepas word. Wat ons gesien het, is dat 40% van die vee aan opkomende boere behoort en dat 1,2 miljoen huishoudings vee besit. Ons is almal saam in die ding, die opkomende en die kommersiële sektor.”

Hy het gesê dat hoewel Suid-Afrika sy status as vry van bek-en-klouseer verloor het, is uitvoer op dieselfde vlakke as in 2015. Hy het die departement bedank dat hy die Chinese uitvoermark vir die bedryf geopen het.

Opgeskerpte biosekerheidsreëls

Mnr. Francois Knowles, registrateur by Apac, sê die land kan nie bekostig dat ’n siekte soos bek-en-klouseer weer kop uitsteek nie. Stappe moet gedoen word om dit te voorkom. Strenger reëls word nou ingestel wat die lewendehawe-agente-bedryf reguleer, spesifiek veilings om die risiko van die verspreiding van dieresiektes te verminder en beheer.

Die lewendehawe-agent of -afslaer sal moet voldoen aan die reëls vir veilings:

  • Registrasie by Apac is verpligtend en slegs geregistreerde agente sal toegelaat word om sake te doen.
  • Die agente sal verantwoordelikheid moet aanvaar vir art. 11 van die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984).
  • ’n Eksterne oudit sal twee keer per jaar van die veilingspersele en alle prosedure gedoen moet word deur ’n onafhanklike ouditeur. Hierdie oudits sal by Apac ingedien moet word.
  • Alle lewendehawe-agente wat by Apac geregistreer is, sal ’n skriftelike onderneming moet gee dat hulle die reëls aanvaar.
  • Elke veiling móét ’n biosekerheidsbestuurder wat by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad geregistreer is, aanstel.