Mnr. Steve Galane, woordvoerder van die departement van landbou, sê volgehoue handel in veilige kommoditeite met Suid-Afrika se handelsvennote is ’n voorrangsaak en dat die aangewese taakspan onverpoos daaraan werk. “Die departement het suksesvol onderhandel vir die hersiening van veeartsenykundige gesondheidsertifikate vir beesvleis na Bahrein, Jordanië, Qatar, Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate, Egipte en Swaziland, terwyl onderhandelinge met Mosambiek, Lesotho en Namibië voortduur. Namibië het ingestem dat wildsvleis wat voor 5 Desember 2018 geproduseer is, na dié land uitgevoer mag word.”

China skop vas

China het egter die invoer van alle diere met gesplete hoewe en ook hul produkte uit Suid-Afrika stopgesit. Dit is ’n groot slag vir Suid-Afrikaanse wolprodusente vir wie China die grootste uitvoermark van wol en Merinovelle is.

Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) vereis China ’n veeartsenykundige gesondheidsertifikaat wat sertifiseer dat velle van skape van ’n bek-en-klouseervrye gebied kom en Suid-Afrika het tans nie bek-en-klouseervrye status nie. Die departement van landbou het gevra dat China ’n sertifikaat aanvaar dat Suid-Afrika die aanbevelings van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) volg vir dieregesondheid. Dit bepaal dat alle velle ingesout word vir 28 dae voordat dit uitgevoer word.

China het nog nie op hierdie spesifieke versoek gereageer nie, maar het aangedui dat ’n volledige risikobepaling rondom bek-en-klouseer in Suid-Afrika gedoen gaan word. ’n Taakspan van Suid-Afrika, waaronder lede van die verskillende veebedrywe en van die departement, sal China ook in Maart besoek om die Chinese departement vir dier-en-plantkwarantyn te woord te staan.

Meer as 10 000 diere is reeds sedert 14 Januarie ingeënt in die gebied waar bek-en-klouseer uitgebreek het. Diere en wild van buite die siektebeheersone mag nou weer in Suid-Afrika vervoer word.

Harde werk lê voor

Die RPO het sy kommer uitgespreek dat die departement nie die kapasiteit het om te verseker dat die siekte nie weer uitbreek nie en voorsien dat dit minstens tot 2020 gaan duur voor Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status terugkry. Dit is dus noodsaaklik dat alle veebedrywe met die departement saamwerk om die situasie te bestuur. Die RPO doen ’n beroep op alle veeboere om by hul plaaslike dieregesondheidforums betrokke te raak en te sorg dat hulle op hoogte is van die situasie en weet wat van hulle verlang word.

Die organisasie glo die toepassing van ’n nasionale naspeurstelsel vir die veebedryf is ’n baie belangrike deel van die oplossing op die probleem en het daarom reeds R100 000 beskikbaar gestel om so ’n stelsel op die been te kry. “Die RPO glo daar moet in die volgende heffingsperiode ruim begroot word om Suid-Afrika se biosekerheid aan te pak,” sê die organisasie in ’n verklaring.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.