Cape Wools sê in ’n verklaring dat China, wat ongeveer 70% van alle Suid-Afrikaanse wol aankoop, amptelik alle wolinvoer weens die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo vroeër vanjaar stopgesit het.

Mnr. Leon de Beer, hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging, sê die situasie kry op die hoogste vlak aandag. Dit is reeds aanhangig gemaak by die direktoraat vir dieregesondheid en die handelstaakspan wat vroeër deur mnr. Senzeni Zokwana, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, saamgestel is.

Hy sê die wolveiling wat op 20 Februarie in Port Elizabeth aangebied sou word, is afgelas.

De Beer is egter vol vertroue dat Suid-Afrika weer die situasie sal kan beredder soos in 2011 toe daar ’n uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu Natal was.

Die taakspan is steeds besig met vergaderings om die situasie te evalueer.

Mnr. Cobus de Klerk, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging, sê die Chinese verbod op Suid-Afrikaanse wol het nie ’n impak op bokaaruitvoer nie, aangesien 90% van die bokhaar in Suid-Afrika self verwerk word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.