As die OIE die versoek toestaan, kan die res van die land weer as bek-en-klouseervry verklaar word, sê die departement van landbou, bosbou en visserye.

Dit volg nadat die afgelope twee maande geen diere in die beheersone, waar die siekte uitgebreek het, positief getoets het vir bek-en-klouseer nie. Sedert die uitbreking in Januarie is meer as 13 000 diere elkeen twee keer ingeënt en die beweging van diere en diereprodukte word streng gemonitor.

Die departement sê die verklaring tot ’n siektebeperkingsone sal dit moontlik maak om weer oor die land se grense heen handel te dryf.

Daar is reeds suksesvol beding vir hersiene veeartsenykundige sertifikate vir die uitvoer van beesvleis na Bahrein, Egipte, Jordanië, Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Lesotho, Mosambiek en Swaziland.

Toegang vir varkvleis uit bek-en-klouseervrye gebiede is beding vir Lesotho, die Seychelle, Mosambiek, Swaziland en daar is ingestem tot gedeeltelike toegang tot Namibië. Die departement onderhandel nog vir toegang vir beesvleis na Namibië en varkvleis na Botswana.

Wat woluitvoer na China betref, is die Chinese regering besig om die inligting wat die Suid-Afrikaanse departement van landbou voorgelê het, te bestudeer. China sal mettertyd terugvoer gee.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.