So ’n heining het immers baie jare bestaan en in lande soos Botswana word bek-en-klouseer suksesvol met sulke heinings bekamp.

Van Jaarsveld wys egter daarop dat die oorspronklike heining se drade gesteel is en wonder hoe die departement van landbou sal verseker dat ’n nuwe heining se drade nie gesteel word sodra dit gespan is nie.

“Met so ’n heining is dit die beheer van mense, voertuie en diere by die deurgange in die heining wat gaan bepaal hoe suksesvol dit is,” sê hy. By elke plek waar ’n pad die heining kruis, moet ’n beheerpunt wees wat seker maak voertuie se bande en voetgangers se skoene word behandel. Daar moet ook toegesien word dat vee nie onwettig vervoer word nie. “As dit nie gedoen word nie, sal ’n heining net mooi niks help nie.”

Planne om ’n soortgelyke heining langs die Limpoporivier tussen Suid-Afrika en Zimbabwe te span hou soortgelyke probleme in. Boonop het die jongste uitbrekings van bek-en-klouseer hul oorsprong op eie bodem.

Van Jaarsveld sê in sy gesprekke met belanghebbendes in die rooivleisbedryf is daar ’n al sterker aandrang uit die private sektor om self met oplossings vir die bek-en-klouseerprobleem vorendag te kom en die staat by te staan met die bestuur daarvan.

“Die Rooivleisprodusente-organisasie in Limpopo het byvoorbeeld onlangs 50 brandysters laat maak vir die departement wat nie genoeg gehad het om diere wat in die beheergebied ingeënt word, te merk nie. Boere is selfs al bereid om die departement met die merkwerk te help,” sê hy. “Ek glo dit is ’n stap in die regte rigting.”