Belanghebbendes in die vleisbedryf probeer in oorleg met die staat en die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) bepaal hoe om die probleem aan te pak.

Die twee beeste behoort aan ’n boer net buite die aangrensende bek-en-klouseerbeheergebied. Uitbrekings in die beheergebied raak nie Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status by die OIE nie. Aangesien die beeste in die bek-en-klouseervrye gebied is, moes die OIE dadelik in kennis gestel word en is Suid-Afrika se status onmiddellik opgeskort.

Die kaart van die departement wys die kwarantyngebied in die distrik Vhembe in Limpopo waarbinne twee beeste positief getoets het vir bek-en-klouseer.

Die gebied is in kwarantyn geplaas. Die verskuiwing van diere of diereprodukte in die kwarantyngebied word streng verbied. Veeartse uit alle oorde het ’n beroep op boere buite die kwarantyngebied gedoen om streng biosekerheidsmaatreëls toe te pas.

Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat maklik deur voertuie, mense en diere versprei word, waarsku dr. Peter Oberem, uitvoerende hoof van die dieregesondheidsmaatskappy Afrivet. “Biosekerheidsmaatreëls moet toegepas word op enige voorwerp, mens of dier wat uit ’n besmette gebied kom. Alle boere wat hoop om hierdie kwessie te oorleef, moet die maatreëls streng toepas.”

Die departement beveel ook aan dat boere nie nuwe diere in hul kuddes inbring nie en om die beweging van diere tussen hul plase en ander plase te vermy.

Die opskorting van Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status beteken boere in Suid-Afrika mag nie meer met vleis en ander veeprodukte, soos wol, in die buiteland handel dryf nie, sê Oberem.

Ander uitvoerbedrywe

Mnr. Drickus Botha, uitvoerende hoof van TLU SA Noord, het ook sy kommer uitgespreek dat die nuus oor ’n positiewe bek-en-klouseertoets ander uitvoerbedrywe nadelig kan beïnvloed. “Nie almal besef dat bek-en-klouseer ’n siekte is wat net diere met gesplete hoewe soos beeste, sekere wild, skape en varke raak nie. Hulle kan bang wees om vrugte of ander produkte uit die kwarantyngebied in te voer.”

Oberem stem saam met mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), dat die uitbreking “ ’n ekonomiese ramp” vir Suid-Afrika se rooivleis- en verwante bedrywe kan wees. Daar is nog nie ’n aanduiding van hoe die siekte Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status op lang termyn gaan raak nie en of daar ooreengekom kan word dat die opskorting tot die kwarantyngebied beperk kan word.

Dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by die Departement van Landbou, waarsku dat dit ’n ingewikkelde en uitgerekte proses kan wees. ’n Span kundiges fynkam die distrik Vhembe om die volle impak van die siekte te bepaal. Maja sê as Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status heeltemal deur die OIE opgehef word, kan dit jare kos om dit terug te kry.

Botha sê ander uitvoerlande in Suider-Afrika sal intussen munt slaan uit Suid-Afrika se teenspoed en gou die winkelrakspasie van Suid-Afrikaanse vleis in die buiteland opneem. “Om daardie beperkte winkelrakspasie terug te kry, kan selfs langer duur as om die bek-en-klouseervrye status te herwin. Self die uitvoer van wildsvleis sal geraak word.”

Groot bron van kommer

Me. Estelle van Reenen, besturende direkteur van Sparta, sê die uitbreking is ’n groot bron van kommer vir plaaslike vleisuitvoerders. Daar is tans ’n oorskot van vleis omdat vleisverkope in Desember nie besonder goed was nie. 

“Omdat Suid-Afrika se status as vry van bek-en-klouseer nou tydelik opgehef word, sluit oorsese markte hul deure vir ons vleis en beland ’n verdere 8% tot 10% se uitvoervleis op die reeds versadigde binnelandse mark.” 

Sy sê die swaard van ’n moontlike uitbreking hang deurentyd oor vleisuitvoerders se kop en skep onsekerheid. “Dit is noodsaaklik dat die owerhede vinnig optree om die uitbreking te stuit en te verseker dat dit nie versprei nie.”

Me. Anso Bracken, bemarkingsbestuurder van Karan Beef, ’n groot vleisuitvoerder na onder meer China, wou nie kommentaar op die uitbreking lewer nie en sê die groep wag op nog inligting van die Department van Landbou. 

'n Inligtingsdokument oor bek-en-klouseer wat deur die departement saamgestel is, is hier beskikbaar. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.