Dié waarskuwing kom van mnr. Matthew Karan, direkteur van Karan Beef, Afrika se grootste beesvoerkraal en een van die land se grootste uitvoerders van rooivleis.

Dit volg ná twee beeste in die distrik Vhembe positief getoets is vir dié virale siekte, wat geen gevaar vir mense inhou nie maar vinnig onder beeste en ander diere met gesplete hoewe versprei.

Karan verduidelik dat ’n groot persentasie van uitvoervleis ontbeen word.

“Weens die verhoogde aanvraag uit die buiteland is meer aanlegte opgerig waar vleis ontbeen word, maar as uitvoerders nie hierdie vleis kan uitvoer nie, sal werkgeleenthede onvermydelik verminder word.”

Die maatskappy voer reeds die afgelope twee dekades vleis na die Midde-Ooste uit, en het in 2017 marktoegang tot China verkry, wat daartoe gelei het dat sy uitvoervolume verdubbel het. 

Vyf jaar 

Karan verduidelik dat dit tot vyf jaar kan neem vir ’n Suid-Afrikaanse vleisuitvoerder om die vertroue van ’n buitelandse mark te wen.

“Ons het in die Midde-Ooste gesien hoe baie werk dit verg om kopers wat skepties is oor vleis uit Afrika te oortuig van ons gehalte, en hierdie geïsoleerde uitbreking van bek-en-klouseer in die verre noorde van die land beteken ons moet nou weer van voor af ons markte gerusstel oor ons produk.”

Die Department van Landbou, Bosbou en Visserye het self die uitvoer van Suid-Afrikaanse vleis stopgesit en reik nie enige gesondheidspermitte uit nie, sê Karan.

“Ons vergader Maandag met die department en daarna sal ons hopelik ’n beter idee hê waar ons staan met die situasie.”

Hy waarsku dat die prys van speenkalwers onvermydelik sal val.

“Die plaaslike aanvraag is nie watwonders nie en dit was die uitvoermark wat die rooivleis-ekonomie aan die gang gehou het. As ons vir ’n geruime tyd nie kan uitvoer nie, sal die prys onvermydelik daal en sal minder beeste geslag word.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.