Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en van sy entiteite moes hul finansiële besteding aan die Parlement se staande komitee oor toedelings verduidelik nadat die departement 19,5% van sy begroting vir die eerste kwartaal van die 2018-’19 boekjaar onderbestee het.

Me. Yvonne Nkwenkwezi Phosa, voorsitter van die komitee, het gesê dit is die komitee se taak om te bepaal of die departement sy hulpbronne doeltreffend gebruik om goeie diens te lewer.

Sy het gesê die departement het altesaam R442,7 miljoen van sy begroting vir die eerste kwartaal onderbestee. Daar was ook ’n vertraging in die oordrag van geld wat boere moet ondersteun en swart ekonomiese bemagtiging moet bevorder. Verder is daar ook vertragings om vakante poste te vul.

Mnr. Mooketsi Ramasodi, waarnemende direkteur-generaal van die departement, het die komitee ingelig dat heelwat vordering gemaak is om die teikens te bereik wat nie in die eerste kwartaal bereik kon word nie.

Miljarde verloor

Die waarskuwing van die LNR rakende die inkomste wat Suid-Afrika kan verloor indien hy sy bek-en-klouseervrye status verloor, kom op ’n tydstip waar hy steeds R414 miljoen kort om die geriewe vir die produksie van bek-en-klouseerentstof te voltooi. Tans is daar net ’n begroting van R128 miljoen beskikbaar, het Moephuli gesê.

Die projek is al sedert 2010 aan die gang nadat die LNR die vervaardiging van entstof in 2005 beëindig het weens tegniese probleme en onvoldoende infrastruktuur. Suid-Afrika het tans nie ’n entstoffabriek nie en is afhanklik van die entstofinstituut in Botswana (BVI) vir hierdie entstof. BVI voorsien reeds entstof vir verskeie ander veesiektes aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.

Moephuli het die komitee ingelig oor die gebrekkige finansiering wat die LNR jare lank ontvang het. Doeltreffende bestuur sedert 2009 het die LNR in staat gestel om sy geldelike tekort sodanig te verminder dat hy ’n gunstige balansstaat in 2014 en 2015 gehad het. Hy het nie soos ander staatinstellings spesiale finansiering gekry om sy tekorte aan te vul nie.

Begrotingsbesnoeiings van R280 miljoen wat die Tesourie in 2016 vir die mediumtermyn ingestel het, het meegebring dat die LNR weer geldelike tekorte ervaar het. Daar is ook sekere staatdepartemente wat nie hul skuld aan die entiteit betaal het nie. Boonop sukkel hy om sy geld te kry van private kliënte aan wie hy dienste gelewer het.

Moephuli het verder gesê kabeldiefstal vererger die LNR se geldelike situasie, want kragopwekkers moet aangeskaf en gebruik word as daar nie bykomende geld is om die kabels te vervang nie.

“Die kabeldiefstal bring mee dat ons dieselkragopwekkers moet gebruik, want ons bedrywighede moet aangaan. Ons het van die gevaarlikste virusse in ons laboratoriums wat in spesiale vrieskaste gehou moet word.”

Meer as tien voorvalle van kabeldiefstal het die LNR se bydrywighede by Onderstepoort in Pretoria geraak.

Volgens Moephuli het die LNR altesaam 102 vakante poste. Hy benodig R20 miljoen om dit nog in hierdie boekjaar te vul.