Altesaam 500 ramme en 1 200 ooie sal op die veiling te koop aangebied word. Die groep beklemtoon in die verklaring dat die veiling uitgestel en nie afgestel is nie.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het op 4 Desember verlede jaar die verbod op veilings afgekondig nadat ’n uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo bevestig is.

Volgens die groep is die besluit geneem om alle lede en kliënte te beskerm en biosekerheidsmaatreëls gereed te kry. “Weens die huidige verbod op veilings weens bek-en-klouseer en die feit dat ons nog wag vir die finale uitslae van bloedtoetse vir Brucella ovis op die veilingsramme kan ons nie ’n nuwe datum (vir die veiling) bepaal nie,” lui die verklaring.

Die groep sê die belange van sy lede en kliënte is ononderhandelbaar en biosekerheid is vir hulle uiters belangrik. “Konsortium-Merino wil ’n bydrae lewer om die nasionale bedreiging wat die landbou tans ten opsigte van dieresiektes en biosekerheid ondervind, op te los en nie bydra tot die probleem nie. Ons vertrou dat ons lede, kopers en vriende ons in hierdie saak sal ondersteun en begrip sal toon vir die situasie – dit is in almal se belang. Dit is ook noodsaaklik dat al ons lede en kliënte hierby sal aanhaak, sodat ons almal saam suksesvol kan boer.”

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vroeër vandeesweek ’n onderneming aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gegee dat sy ’n versoek van die komitee dat die verbod opgehef word, aan die reëlingskomitee wat met die uitbreking van bek-en-klouseer belas is, sal oordra. Die reëlingskomitee sal moet bepaal hoe dit gedoen kan word sonder dat dit ’n ongunstige impak op die bedryf het.

Die portefeuljekomitee voel aangesien die uitbreking van bek-en-klouseer onder beheer is, moet die verhandeling van diere toegelaat word in die provinsies waar die siekte nie voorkom nie.