Dr. Bothle Modisane, hoofdirekteur van die direktoraat veeartsenydienste van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê ten spyte van die voorkoms van die siekte op 15 plase in Limpopo beskou hy dit nie as nuwe gevalle nie, maar as deel van die aanvanklike uitbreking sedert verlede November. Sy departement het meer gevalle nagespeur danksy aktiewe opvolgpogings.

Hy doen ’n beroep op die rooivleisbedryf om die heersende beperkende maatreëls nog enkele weke te verduur, aangesien die spanne nog die moontlike voorkoms van die siekte op sowat 35 plase moet ondersoek.

Besmette diere sal eersdaags geslag word by slagplase waar kwarantynmaatreëls geld.

“Ek is oortuig dat die gevalle van besmetting aansienlik meer sou wees as die huidige beperkings ten opsigte van veilings en die vervoer van diere met gesplete hoewe nie gegeld het nie,” sê hy.

Modisane bedank die produsente wat tot dusver aan die maatreëls gehoor gegee het.

Oor die gebruik van entstof om die siekte hok te slaan, sê Modisane dat die departement se benadering eerder op die slag van die besmette diere konsentreer om te voorkom dat meer diere ’n positiewe reaksie op die entstof toon. “Ons mikpunt is om die status van die bek-en-klouvrye gebied ongeskonde te hou sonder die gebruik van entstof. Die gebruik van entstof kompliseer net die bestryding van die siekte, aangesien van die behandelde diere tog ’n positiewe reaksie daarop toon.”