Die vestiging van ’n nasionale vee-identifikasie-en-naspeurbaarheidstelsel is daarom noodsaaklik, sê Agri Oos-Kaap.

Volgens mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, het die lewendehawesektor dringend ’n gekoördineerde en erkende identifikasie-en-opsporingstelsel vir vee nodig.

“Ons het ’n omvattende en samehangende strategie vir die probleem nodig. As ons nie die basiese beginsels kan regkry nie, gaan ons nie suksesvol wees nie. Vir Suid-Afrika om toegang te kry tot die internasionale bees- en skaapvleismarkte moet ons naspeurbaarheidstelsel gereed wees. Ons moet vorentoe beweeg. Dit is nie net in Limpopo waar die beweging van vee nie deeglik gemonitor word nie, maar in alle provinsies, veral in die Oos-Kaap.”

Hy benadruk dat die Suid-Afrikaanse lewendehawebedryf en die land se ekonomie miljarde rande verloor weens die herhaalde uitbreking van dié siekte en die voortslepende droogte. Na raming beloop die verlies weens die uitbreking nagenoeg R10 miljard, wat ’n verlies van R2 miljard in belastinginkomste meebring.

Volgens mnr. Paul Hobson, mede-eienaar van Hobson & Co, ’n groot Oos-Kaapse landbou-en-veediensteverskaffer, vind baie nie-amptelike beweging van vee in die Oos-Kaap plaas. “Ek sien nie genoeg padblokkades of maatreëls wat die beweging van diere monitor en beheer nie.” Diere word veral uit informele areas sonder die nodige dokumentasie verskuif.

Volgens Hobson vind deeglike polisiëring by veeveilings en skoue plaas waar die nodige papierwerk wel gereed is. “Ons is bekommerd oor die situasie en volg al die nodige protokolle. Ons gebruik nie vragmotors wat van buite die Oos-Kaap kom nie.”

Stern sê hoewel die siekte nie in die Oos-Kaap aangeteken is nie, is rooivleis verreweg die grootste landboukommoditeit in die Oos-Kaap is en sal die teenwoordigheid van die hoogs aansteeklike siekte ’n reuse-uitkringeffek op verbruikers hê.

Op hul knieë

Volgens Stern kan die Oos-Kaap nie nog ’n terugslag saam met die droogte bekostig nie.

“Kontantvloei is die laagste ooit. Al het daar goeie reën geval, is die verlammende droogte nog ver van gebreek. Te midde van die krisis van bek-en-klouseer het boere ’n ernstige behoefte om hul teelvee aan te vul.”

Volgens Stern is daar reeds sedert 2011 besprekings oor die toepassing van die lewendehawe-identifikasie-en-naspeurbaarheidstelsel (Lits). So ’n stelsel kan toegang tot uitvoermarkte en ook dieregesondheid verbeter en lei tot hoër inkomste vir boere.

“So ’n stelsel bied beheer oor die beweging en gesondheid van diere. Dit is ook ’n sleutel tot voedselveiligheid, wat impliseer dat daar beheer is van die plaas tot op die tafel.”

Stern benadruk dat nog ’n uitbreking van bek-en-klouseer verskeie nadelige gevolge kan inhou. Dit sluit in dat nasionale en internasionale verbruikers kan besluit om nie meer Suid-Afrikaanse veeprodukte soos rooivleis, melk of wol te koop nie, wat uitvoerinkomste kan raak. Daarby kan die bedryf sy markaandeel verloor wat moeilik en duur is om te herwin. Dit kan die land se beeld skaad. Dit kan ook lei tot skade aan plaaslike produksiekapasiteit en die ontwrigting van plaaslike waardekettings.

“Dit is uiters belangrik om goeie dieregesondheid te onderhou as ’n land op internasionale markte wil meeding.”