“Hoewel eerste gedink word aan die impak op die rooivleisbedryf gaan, is daar net so groot bedreiging vir wildboere wat diere moet verskuif.”

Sy sê wild wat onlangs op veilings verkoop is, moet van einde Februarie verskuif word. Die wildbedryf verskuif nie diere tussen Augustus en Februarie nie, maar wildboere wat byvoorbeeld diere in Namibië en Suid-Afrika aanhou, sal nie hul wild tussen die twee lande kan verskuif voordat regulasies wat die vervoer van lewende diere verbied, opgehef word.

Die Namibiese departement van landbou, water en bosbou het alle invoer- en vervoerpermitte vir lewende hawe uit Suid-Afrika gekanselleer. Slegs sekere varkvleisprodukte, vleis wat voor 5 Desember geproduseer is, en voer en kuilvoerbale wat nie uit Mpumalanga, Limpopo of KwaZulu-Natal kom nie, mag ingevoer word.

Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, sê die uitbreking van bek-en-klouseer kom juis op ’n tydstip dat die uitvoer van plaaslike wildsvleis besig is om te ontwikkel. “Dit gaan beslis ’n ongunstige uitwerking op die bedryf hê, maar terselfdertyd gee dit alle belanghebbendes in die rooivleisbedryf, hetsy dit die bees-, skaap- of wildsbedryf is, nou ’n geleentheid om saam te sit en die krisis te bestuur.”

Samewerking

Die uitbreking van bek-en-klouseer word fyn dopgehou en deeglik bestuur, het mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gesê op ’n mediakonferensie in Pretoria oor die jongste stand van sake. “Ons het reeds bewys dat, wanneer ons as ’n land saamwerk, kan ons ’n krisis soos hierdie die hoof bied.”

Zokwana het verwys na die feit dat verskeie van Suid-Afrika se handelsvennote reeds handelsbeperkinge opgehef het en sekere produkte weer invoer ná harde werk deur die handelstaakspan.

Hy het gesê die inenting van vee het op 14 Januarie begin. Die vee in die gebiede waar die siekte die eerste keer opgemerk is, is eerste ingeënt. Daarna is die vee in ’n omtrek van 20 km rondom dié gebiede ingeënt. “Tot dusver is reeds meer as 10 000 stuks vee teen bek-en-klouseer ingeënt. Die vee wat ingeënt is, is gemerk.”

Teen 30 Januarie vanjaar is die siekte in vier distrikte in Limpopo gediagnoseer en dit is by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) aangemeld. Die voorkoms van bek-en-klouseer binne hierdie gebiede is bevestig deur toetse wat by die oorgrensdieresiekteprojek van die Onderstepoort-instituut vir Veeartsenykunde uitgevoer is. “Die vee wat deur die siekte geraak is, word in plattelandse woongebiede met kommunale diptenks en weiding gehou. Daar is in die 20 km-radius rondom die gebiede waar bek-en-klouseer gediagnoseer is na raming 15 000 stuks vee, waarvan 4 500 binne die bek-en-klouseervrye sone beweeg,” het Zokwana gesê.

Die siekte-beheergebied word begrens deur die die N1-hoofweg, die R81, die R36 en die R524. “ ’n Gesamentlike taakspan, bestaande uit staatsamptenare, verkeers- en distriksrampbestuurbeamptes, die SA Polisiediens, die rooivleisbedryf, en provinsiale en nasionale staatsveeartse, vergader daagliks om die krisis te bestuur. Die taakspan het ook reeds 15 padblokkades opgestel om die beweging van diere uit die gebied te beheer,” het Zokwana gesê.

Vervoort sê die uitbreking van bek-en-klouseer moet nie in isolasie gesien word nie. “Ons is vol vertroue dat ons die situasie goed onder beheer het, maar dan moet almal besef dat dit nie net Limpopo se probleem is nie. Hierdie uitbreking het ’n impak op die hele Suid-Afrikaanse rooivleiswaardeketting. Daarom is elkeen se bydrae nodig om te verseker dat die siekte nie verder versprei nie.”

Me. Marzanna Polydorou van die dieregesondheidsforum sê die drie taakspanne wat gemoeid is met die bestuur van die krisis, vergader amptelik twee keer per week om inligting uit te ruil ten einde die siekte beter te bestuur. “Die spanne is deurentyd met mekaar in kontak, maar in hierdie sessies kan strategie aangepas word om die siekte so gou moontlik die hoof te bied.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.